Rondlopervee is al maande lank ’n groot kopseer in die Bela-Bela-omgewing. Die Pos het al verskeie kere berig oor ongelukke wat deur rondlopervee veroorsaak word. Die jongste was in April toe ’n polisievoertuig op die R516-pad tussen Bela-Bela en Settlers teen ’n bees gebots het.
Volgens die Bela-Bela-polisie het hulle om 16:00 op Maandag 20 Mei ’n klagte ontvang dat daar 10 beeste in Swanepoelstraat by die bekende S-draaie naby Roodepoort rondgedrentel het. Die beeste was glo sonder ’n oppasser. Dit het daartoe gelei dat die beeste dieselfde dag, in samewerking met die polisie, geskut is.
Die polisie het probeer om die eienaar op te spoor, maar was onsuksesvol, waarna die skut by Murrayhill, buite Pretoria, gekontak is om die beeste te kom oplaai.
Die polisie het voorts gesê die eienaar het eers later na vore gekom. Hy moes noodgedwonge ’n stewige boete aan die skut per bees opdok om sy vee terug te kry. Die eienaar is egter nie aangekla nie.
Die publiek mag die skut direk kontak om rondlopervee te skut, maar eers nadat hulle ’n klag by die polisie gelê en die klag in die polisie se voorvalleboek aangeteken is, het die polisie gesê.
Die Murrayhill-skut kan gekontak word by tel. 082 568 4746 en die Bela-Bela-polisiestasie by tel. (014) 736 9760.



