Bela-Bela-man se boerderydrome bewaarheid
“Daar was soveel onsekerheid oor my toekoms. Daar was net nie geld vir universiteitstudies nie, maar ek was vasberade om dit bloot as ’n hekkie en nie ’n struikelblok te beskou nie.”
Ranier van Heerden (24) van Bela-Bela het aan die einde van 2013 met ’n matrieksertifikaat van Hoërskool Warmbad in die hand en duisende vrae gewonder wat die toekoms vir hom inhou.
Nou, ná ses jaar se bid en harde werk, is hy ’n voedingkundige in die landboubedryf wat in herkouervoeding spesialiseer. Hy is meer spesifiek gemoeid met die invloed wat weiding, proteïengehalte en aminosuuraanvullings op melkkoeie se produksie het.
“Daar was soveel onsekerheid oor my toekoms. Daar was net nie geld vir universiteitstudies nie, maar ek was vasberade om dit bloot as ’n hekkie en nie ’n struikelblok te beskou nie.”
Hy het ongeveer twee jaar ná skool vir ’n mynonderneming in Northam gewerk om geld te spaar om te gaan studeer. Toe kom die oproep van die Atterbury Trust Groep wat hom die geleentheid gegee het om ’n studiebeurs te bekom.
“Die oproep het alles verander. Ek het in 2014 begin om vir ’n BSc.Agric-graad (Veekunde) by die Universiteit van Pretoria (Tuks) te studeer. Veekunde was my keuse, want ek het ’n passie vir diere, die natuur, boerdery en ek het gevoel my vermoëns val iewers daarbinne.”
Hy het in 2018 begin met sy M.Sc. Agric (Voeding) en gefokus op die melkproduksie van Jerseykoeie en hoe hul voeding daarop inwerk.
“Die landboubedryf is onder geweldige druk vanuit ’n ekonomiese-, sosiale- en omgewingsoogpunt en daar word gereeld na maniere gesoek om hierdie sektor meer doeltreffend te bestuur,” het hy gesê. “My studie is die eerste van sy soort in Suid-Afrika, want daar is werklik geen navorsingsliteratuur hieroor beskikbaar nie.”
Van Heerden het in Maart vanjaar na Amerika gereis waar hy ’n studiebesoek aan die Davis-kampus van die Universiteit van Kalifornië, een van die wêreld se topveeartsenykunde-universiteite, afgelê het.
Hy het dié geleentheid deur die Wes-Kaapse departement van landbou se navorsingstrust en ’n privaat onderneming ontvang om waardevolle data oorsee bymekaar te maak.
“Dit was ’n ongelooflik interessante en leersame ervaring. Die skaal waarop boerdery daar plaasvind en die navorsingsgeleenthede is indrukwekkend,” het hy vertel.
“Ek het met melkprodusente gewerk wat op enige tyd van die dag meer as 9 000 koeie in een omgewing gehad het. Ek het wonderlike mense ontmoet wat hul ondervinding en kundigheid oor my studie-onderwerp met my gedeel het.”
Sy planne vorentoe is om veeboere met dieetprogramme vir beter produktiwiteit te help terwyl hy steeds op navorsing sal fokus. Hy studeer tans verder en boer saam met sy broer, Carel, met boerbokke buite die dorp.
“Ek is veral dankbaar teenoor my familie. Die belangrikste les wat my ouers, Piet en Fredrieka, my geleer het, is dat alles in ’n mens se lewe met ’n doel gebeur en dat ’n mens altyd die beste weergawe van jouself moet wees. Ook om eerlik en lojaal te bly,” het hy gesê.
“Die studiegeleentheid het nie net my drome bewaarheid nie, maar my ook aangespoor tot nuwe hoogtes. Bydraes soos hierdie het ’n sneeubaleffek wat duisende studente en visioenêre mense se lewens kan verander.”



