Verligting ná bek-en-klouseer in sy spore gestuit word
Die departement van landbou, bosbou en visserye het op Dinsdag 28 Mei bevestig dat die bek-en-klouseer-uitbraak in Limpopo amptelik verby is.
Die uitbraak, wat dodelik vir diere is, het op Maandag 7 Januarie ontstaan en daartoe gelei dat die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (OIE) Suid-Afrika se bek-en-klouseervrye status opgehef het. Dit het die uitvoer van vee en vleisprodukte na die buiteland beperk en boere kon hul produkte slegs binnelands verkoop.
As noodmaatreël kon geen vee binne die gevaarsone, wat in die Vhembe-gebied in die noorde van Limpopo geleë was, verkoop of vervoer word nie.
Luidens ’n verklaring van die departement is daar sedert Februarie geen verdere gevalle van dié siekte aangemeld nie.
Henk van de Graaff, voorsitter van die Waterberg Distrik Landbou-unie (WDLU), asook voorsitter van die Transvaalse Landbou-unie (TLU) Noord-streek, het gesê die Vhembe-gebied is bekend daarvoor dat bek-en-klouseergevalle daar aangemeld word en noodmaatreëls dan ingestel moet word.
“TLU is verheug oor die nuus dat die verbod opgehef is. Ons wag nog om met die nuwe LUR van landbou in gesprek te tree en planne te beraam om met die regering saam te werk om toekomstige uitdagings te voorkom.”
Die beheer en beperking van bek-en-klouseer bly ’n regeringsdiens, maar die TLU se eie kenners en veeartse is beskikbaar om met raad en daad by te staan as die siekte weer opduik, het Van de Graaff gesê.
China het intussen sy moratorium op die uitvoer van wol vanuit Suid-Afrika gelig. Samesprekings om vleis na China uit te voer is egter luidens die verklaring steeds aan die gang.
Die departement het reeds die nuutste verwikkelinge met die OIE gedeel en wag op ’n positiewe uitslag om sy status terug te kry.



