Kom geniet swierige oggend saam met Kansa
Die jaarlikse Cuppa vir Kansa vind vanjaar by Thaba Manzi net buite Bela-Bela plaas en die tema vir die swierige geleentheid is “Denim and Diamonds”.

Dit vind op Saterdagoggend 22 Junie van 10:00 tot 13:00 plaas, maar besoekers word aangemoedig om vroeër op te daag om die uitsoekstalletjies met juweliersware en edelgesteentes teen bekostigbare pryse te bekyk.
Die bekende RSG-omroeper Amoré Bekker is die spreker. Sy is ook ’n TV-aanbieder en die skrywer van die boek “Toe-val-lig”. ’n Duet-sangpaar sal by die geleentheid optree.
Die koste vir die bederfoggend beloop R120 per kaartjie. Soos gewoonlik sal die kankeroorwinnaars weer spesiaal verwelkom word.
Ansie van Heerden (Kansa se gemeenskapsmobiliseerder) vra dringend hulp van nog gasvroue wat die oggend kan uithelp.
Vir meer inligting, bel vir Van Heerden by die Kansa-kantoor in Modimolle by tel. (014) 717 3950 of tel. 076 409 4444.



