MunicipalNews

Lang verwagte lisensies nou hier

Inwoners van Bela-Bela is al moeg gewag vir hul bestuurslisensies waarvoor hulle reeds verlede jaar aansoek gedoen het.

Daar is al verskeie kere navrae aan die munisipaliteit oor dié dienslewering gerig.

Werkers van die verkeersafdeling, wat bekend staan as die Driving Licence Card Account (DLCA) wat die lisensies hanteer en uitreik, het in 2018 gestaak en dit het daartoe gelei dat die hantering van lisensie-aansoeke tot ’n stilstand gekom het, het ’n woordvoerder van die departement van verkeer vroeër aan Die Pos gesê.

Die DLCA-werkers het eers in Desember 2018 hul werk voortgesit, maar teen daardie tyd was daar duisende agterstallige lisensies.

Blade Nzimande, destydse minister van vervoer, het landsburgers gerus probeer stel dat hul lisensies steeds geldig sal wees totdat die krisis opgelos is.

Ismael Mnisi, ministeriële verkeerswoordvoerder, het by navraag gesê daar behoort nie tans enige probleme met die uitreiking van lisensies te wees nie.

“Alles by die DLCA is nou goed op dreef. Indien daar steeds mense is wat probleme ondervind nadat hulle by hul naaste verkeersafdeling navraag gedoen het, kan hulle dit onder my aandag bring,” het hy gesê. Mnisi het gesê mense kan vir hom ‘n e-pos stuur na mnisi@dot.co.za(.)

Die Pos het teen druktyd terugvoer van Kabelo Mosito, woordvoerder van die Bela-Bela-munisipaliteit, ontvang dat die verkeersafdeling op Maandag 3 Junie ’n groot aantal nuwe lisensies ontvang het.

“Die hoof van verkeer en verteenwoordigers van die DLCA sal intussen vergader en ’n oplossing probeer vind om dié lisensies so spoedig moontlik by die aansoekers uit te kry,” het hy gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button