Geliefde onderwysman met die klein hartjie sterf onverwags
“Ons gaan vir Rudi verskriklik mis. Hy laat ’n groot leemte. Ons het hom nooit kwaad gesien of gehoor dat hy lelik met iemand praat nie. Die kinders was mal oor hom.”
Lojaal, meelewend, liefdevol, ’n goeie onderwyser.
Dít is die woorde waarmee vriende, familie, kollegas en leerders vir Rudi Hattingh ná sy onverwagse afsterwe die afgelope naweek gegroet het.
Hattingh (47) was jare lank ’n onderwyser aan Susan Strijdomskool in Modimolle. Sy vrou, Linda, hou ook daar skool.
Rudi is Sondagoggend 2 Junie onverwags in ’n nasorgeenheid in die stad oorlede nadat hy ná drie weke in die Montana-hospitaal ontslaan is. Hy is opgeneem ná ’n slegte val waarin hy etlike beenbreuke opgedoen het.
“Ons gaan vir Rudi verskriklik mis. Hy laat ’n groot leemte. Ons het hom nooit kwaad gesien of gehoor dat hy lelik met iemand praat nie. Die kinders was mal oor hom,” het Isabel Boshoff, skoolhoof, gesê. “Die skool was Maandagoggend stil.”
Volgens haar was Hattingh baie betrokke by die skool se sportafrigting, veral atletiek. “Geen werk was vir hom te groot of te klein om aan te pak nie,” het sy gesê.
Ds. Ewald Schmidt en past. Johannes Morudu het die personeel vertroos nadat hulle die nuus meegedeel is.
Linda sê hul lewens gaan leeg wees sonder hom. “Hy was ’n wonderlike eggenoot en pa. Hy het nooit ’n slegte woord van iemand kwytgeraak nie. Hy het ’n klein hartjie gehad en was altyd bereid om iemand in nood te help.
“Rudi was ongelooflik betrokke by ons seun en het sy behoeftes altyd eerste gestel,” het sy gesê.
Hattingh laat sy vrou Linda, sy seun Rudi Hattingh jnr., sy ouers Dolf en Louise en broer Len agter.
Sy troosdiens het op Donderdag 6 Junie in die Fokus Deo-gemeente in Modimolle plaasgevind.



