’n Verkeersbeampte het sy rieme lelik styfgeloop nadat hy omkoopgeld van ’n motorryer aanvaar het.
Kapt. Matimba Maluleke, provinsiale woordvoerder van die inspektoraat vir prioriteitsmisdade (die Valke), het by navraag gesê die beampte, Rodney Dakalo Ramusia (29), en ’n kollega het glo in Mei 2018 ’n voertuig met twee insittendes buite Mookgophong afgetrek en R200 van die bestuurder geëis. Ramusia het die geld gevra en was nie van plan om ’n boete aan die bestuurder uit te reik nie, het Maluleke gesê.
Ramusia was egter onbewus daarvan dat die bestuurder en sy passasier lede van die Valke se ernstige misdaad-ondersoekeenheid was wat in ’n ongemerkte voertuig gery het.
Ramusia en sy kollega is daar en dan in hegtenis geneem nadat Ramusia die omkoopgeld in ontvangs geneem het.
Die twee is tydens die hofverrigtinge borgtog van R1 000 elk toegestaan, het Maluleke gesê. Die klagte van korrupsie is egter teen die kollega teruggetrek en hy is vrygelaat.
Ramusia is op Dinsdag 28 Mei in die Mokopane-streekhof tot ses jaar tronkstraf gevonnis op aanklagte van korrupsie. Hy is nie die keuse van ’n boete gegee nie, het Maluleke gesê.
Maj.genl. Thobeka Jozi, die Valke se provinsiale hoof, het in reaksie gesê die vonnis is ’n waarskuwing aan enige regeringsamptenaar wat aanhou om van die publiek te probeer steel.
Sy het gesê die Valke sal aanhou om regerings- en private instansies dop te hou en het mense aangemoedig om korrupte amptenare se onwettige dade aan te meld.



