
Bosveld-belastingbetaler, via e-pos, skryf:
’n Nuwe boekjaar, vir onder meer ook munisipaliteite, het amptelik op Saterdag 1 Junie begin.
Een van die afdelings van die munisipale begroting is sogenaamde belastingfondse.
Die inkomste vir dié deel van die begroting word hoofsaaklik verkry uit die vordering van eiendomsbelasting.
Belastingfondse word dan onder meer aangewend vir die onderhoud en instandhouding van daardie munisipale dienste waaraan nie ’n regstreekse inkomste gekoppel is nie, of wat nie voldoende inkomste genereer om uitgawes verbonde aan daardie dienste te finansier nie.
Onder daardie dienste tel onder meer begraafplase. Die inkomste wat uit die verkoop van grafte bekom word, is selde voldoende vir die onderhoud en instandhouding van begraafplase. Gevolglik word belastinggeld aangewend ter aanvulling van tekorte in hierdie afdeling.
Daar is kort-kort berigte in die media van gemeenskapsprojekte soos byvoorbeeld die skoonmaak van parke.
Waarom moet die gemeenskap verantwoordelikheid aanvaar vir die lewering van dienste wat op die terrein van die munisipaliteit is en waarvoor eiendomsbelasting gevorder word?
Die Pos het verlede week berig oor kinders van Mookgophong wat die begraafplaas help opruim het. ’n Munisipale raadslid het glo die swartsakke en handskoene voorsien wat vir die opruimingsprojek gebruik is. Na regte moes daardie raadslid aan die kinders verduidelik het wat van die belastinggeld word wat hul ouers betaal en wat veronderstel is om vir die onderhoud en instandhou-
ding van die begraafplaas gebruik te word.



