Houtsmouse doen flink sake langs die deurgangsroetes in verskeie Bosvelddorpe.
Helderoranje lemoene, avokadopere en braaihout — teen ’n skamele R8 per sak — lok ritse kopers wat hul braaivleisvure hoog gaan laat brand.
Die Pos het onlangs berig oor ’n inwoner se kommer oor die impak wat ondeurdagte houtstropery van inheemse bome — sommiges beskermde spesies — op die natuur het. Die vraag na hout styg in die koue wintermaande onder inwoners wat nie toegang tot elektrisiteit het nie en vir wie hout lewensnoodsaaklik is.
Die Modimolle-polisie het op Donderdag 6 Junie toegeslaan op houtsmouse wat hul ware onwettig langs die Vaalwaterpad buite Modimolle verkoop. Die gemeenskapspolisiëringsforum, landelike veiligheid, die Wasps-veiligheidsgroep, die departement van gesondheid en die Limpopo departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme (Ledet) het aan die operasie deelgeneem. Die smouse verkoop braaihout wat deur inwoners, sowel as stedelike besoekers, gekoop word.
Hoewel die hout as sekelbos verkoop word, sê bewaringsgesindes dat bedreigde houtspesies soos tambotie en boekenhout ook in die sakke gevind word. Dié hout is aansienlik goedkoper as in die stede waar ’n sakkie sowat R39 kos.
Tydens die operasie is 16 mense aangekla daarvan dat hul handel gedryf het sonder die nodige permitte. Talle was buitelanders wie se dokumente deur die departement van binnelandse sake nagegaan is. Daar is op sowat 2 000 sakkies hout beslag gelê, asook 300 sakkies lemoene, 250 sakkies avokadopere en drie sakke mielies, het AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, bevestig.
Die stalletjies is meestal skaars ’n meter van die padskouer af opgeslaan. Groter stompe word langsaan verwerk in kleiner stukke sodat dit in sakke verpak kan word. Dié optrede is teen die padagentskap Sanral se regulasies omdat dit motoriste se veiligheid kan benadeel.
Wetgewing bepaal dat daar geen handel gedryf mag word binne 60 m van die padreserwe af en sonder die toestemming van Sanral nie. Selfs dan is ’n permit nodig om iets langs die pad te verkoop. Nie een van die smouse wat aangekla is, kon ’n permit toon nie, het die polisie gesê.
Verskeie inwoners het hul kommer gelug oor die tempo waarteen inheemse bome afgesny word. ’n Man wat anoniem wou bly, het verlede week vertel dat hy reeds twee keer vragmotors met groot tambotie- en boekenhoutstompe wat bykans ’n meter in deursnee is, op die Jasper-pad langs die treinspoor teëgekom het. Hy het glo by die bestuurders navraag gedoen oor waarheen dit op pad is.
“Hulle het gesê dat hulle dit aan ’n Chinese sakeman van Johannesburg verkoop,” het hy gesê. “Hoeveel jaar neem ’n boom om daardie grootte te bereik?”
Die onwettige stropery van bome is wêreldwyd ’n probleem. In Mosambiek het die regering reeds ’n memorandum van ooreenkoms met China aangegaan om onwettige houtstropery te beperk. China het ’n onlesbare dors na goeie gehalte hout vir die maak van meubels. Die nuusagentskap Reuters het verlede jaar berig dat Oosterse bronne vir hardehout soos rooshout uitgeput is en die Chinese na Afrika kyk om die mark te voed.
Mosambiek is tans die tiende grootste uitvoerder van rooshout na China. Volgens Reuters het Mosambiek sedert 2 000 reeds bykans drie miljoen hektaar woude, oftewel 10 %, verloor weens onwettige stropery.
Nog ’n inwoner van Modimolle, wat gereeld in Mosambiek werk, sê dat die groot bome vir kilometers aaneen in die noorde van die land gestroop is. “Ek het gehoor van die mense sê hulle kry soveel as R4 000 per boom wat hulle afkap. Van die hout, veral kiaat, word ook gebruik om houtskool mee te maak,” het die man, wat nie genoem wou word nie, gesê. “Ons wil nie hê dié probleem moet in ons omgewing kop uitsteek nie. Dit sal ’n groot invloed op die omgewing hê.”
Plaaslik is daar uiteenlopende menings oor waar en waarvoor die hout gestroop word. Van die smouse vertel dat hulle hout oes op plase tussen Modimolle en Mookgophong waar boere ontbos vir nuwe lande. ’n Ooggetuie sê egter dat smouse eiendom onwettig betree en hout op staatsgronde en privaat eiendom stroop. Volgens een van die smouse word van die hout op vragmotors gelaai en na stede vervoer en ander word deur smouse verkoop aan die duisende mense in plakkerskampe wat nie elektrisiteit het nie en dit gebruik vir hitte en om kos te kook. “Daar is baie mense wat hout soek,” het die man gesê.
’n Studie wat in 2016 in die wetenskapsjoernaal Environmental Research Letters gepubliseer is, het die produksie van houtskool om aan die stedelike vraag te voorsien, blameer as die grootste dryfveer agter die verlies aan woude in sub-Sahara Afrika. Volgens hul skatting sal dié vraag in die komende dekades styg.
Die departement van watersake en bosbou (DWAF) het reeds 10 jaar gelede in ’n verslag hul kommer oor die vinniggroeiende braaihoutmark in Gauteng uitgespreek. Reeds in 2007 is daar na verwagting sowat 70 000kg braaihout per dag in die provinsie verkoop, hoewel navorsers glo die syfers is dubbel soveel.
Eugene Nemavhola, ’n inspekteur van Ledet, het bevestig dat die onoordeelkundige afsaag van inheemse bome ’n probleem is. “Van die mense sny hout af vir eie gebruik om kos te kook en warm te bly. Daar is egter ander mense wat dit uitbuit vir eie gewin en soveel bome afsny as wat hulle kan. Hulle laat die grond kaal agter en verkoop die hout. Dit veroorsaak skade aan die natuur.”
Hy het mense aangemoedig om hout van betroubare bronne aan te koop.
Kan daar ’n balans tussen bewaring en die vraag na ’n noodsaaklike hulpbron — hout — bereik word? Sal die publiek bereid wees om slegs hout van etiese verskaffers te koop al kom dit teen ’n duurder prys?



