Ses ANC-raadslede van die Bela-Bela-munisipaliteit het op Maandag 20 Mei tydens ’n amptelike raadsvergadering ’n mosie ingedien waarin hulle vra dat Jeremiah Ngobeni, burgemeester, se “bykomende” magte opgeskort word.
Burgemeesters het ingevolge munisipale wetgewing seremoniële magte wat bepaal dat hulle sekere verslae, kontrakte en verwikkelinge op die uitvoerende komitee mag bespreek. Hulle mag ook voorstelle maak en insette aan die uitvoerende komiteelede lewer.
Hierdie voorstelle en insette word dan by die onderskeie agendapunte gevoeg, waarna dit skriftelik tydens ’n amptelike munisipale raadsvergadering ingedien word. Ngobeni is tans die voorsitter van die uitvoerende komitee van die munisipaliteit.
Die ses ANC-raadslede wat die mosie teen Ngobeni ingedien het, is Henriëtta Ledwaba (hoofsweep en voormalige burgemeester), Freddy Hlungwane (voormalige burgemeester), Angelina Shika, Petrus Aphane, Boetie Moname en Spando Maluleka.
Die ander ANC-raadslede, Sarah Malete, Lerato Mpete en die speaker, Zacharia Moeletsi (ook ’n voormalige burgemeester), het nie die mosie onderteken nie.
Die Pos is in besit van ’n afskrif van dié dokument. Hoewel daar voorsiening gemaak is op die dokument vir Ngobeni se handtekening, het dit ontbreek.
Ledwaba het by navraag aan Die Pos gesê die mosie is ingedien ná bewerings dat die burgemeester nepotisme ondersteun. Sy het ook beweer Ngobeni wil ongekwalifiseerde personeel aanstel en dat hy wanpersepsies oor die munisipaliteit skep.
Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, het by navraag aan Die Pos gesê Moeletsi het die mosie tydens die vergadering verwerp omdat die bewerings wat daarin vervat is volgens hom “te vaag” was. Ledwaba het na afloop van die vergadering gesê hulle sal weer die mosie tydens die volgende raadsvergadering indien. Die volgende vergadering is gereël vir einde Julie of begin Augustus.
- EFF-lede het tydens dieselfde vergadering gevra dat die huidige veiligheidskontrak by die munisipaliteit geskrap word en ’n plaaslike onderneming in diens geneem word om dié werk te verrig. Hulle het ook gevra vir ’n vorderingsverslag oor die hoeveelheid beskikbare behuisingsgrond in die Bela-Bela-omgewing.



