MunicipalNews

Kundige munisipale span bring besoek aan probleemgebiede

Van Staden het die dringendheid van sommige probleemgebiede uitgewys en gesê sy hoop die munisipaliteit sal nou vinniger optree om probleme op te los.

Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit en Dikalo Sinthumule, senior bestuurder in die afdeling vir stadsbeplanning en ontwikkeling, het op Dinsdag 4 Junie ’n oorsigtoer in die munispale gebied onderneem.

Die doel van die besoek was om probleemgebiede te identifiseer en om oplossings daarvoor te vind.

Volgens Van Staden is dit die eerste keer in ’n baie lang tyd dat die Mookgophong-munisipaliteit ’n senior bestuurder vir stadsbeplanning en ontwikkeling het. Ook in Modimolle was dié pos baie jare lank vakant, het sy gesê.

Van Staden het die dringendheid van sommige probleemgebiede uitgewys en gesê sy hoop die munisipaliteit sal nou vinniger optree om probleme op te los.

Die toer het afgeskop met ’n besoek aan woonerwe in Mookgophong waar sakeondernemings en skole glo sonder die nodige toestemming bedryf word. Daarna het Van Staden en Sinthumule die stuk grond langs die Euphorbia Christelike Onafhanklike skool in Mookgophong besoek. “Die raad het in Februarie 2019 toestemming verleen dat dié grond aan die skool verkoop word vir die ontwikkeling van sport- en opvoedkundige geriewe en die waardasie word tans gefinaliseer,” het sy gesê.

Hulle het ook Pierneefstraat en die onvoltooide inkopiesentrum by die suidelike ingang van die dorp besoek. Pierneefstraat is tydens die 2017 Paasnaweek tydelik vir verkeer geopen omdat die sakesentrum glo onwettig oor die Roedtan-pad gebou is. Die straat loop egter deur ’n woongebied en moet dikwels swaarverkeer dra.

Uitbreiding 8 in die dorp, waar ’n groot aantal mense munisipale grond onwettig beset het, is ook besoek. “Die stuk grond is in die Nylrivier se vloedvlakte en baie naby aan ons grootste waterbron — die 19 boorgate in die Nylrivier. Ek is veral bekommerd oor die verspoeling van strukture en die moontlike lewensverlies wanneer ons vloede kry. Die besoedeling van ons waterbronne is ook ’n groot bron van kommer,” het Van Staden gesê.

Sy het gesê sy is opgewonde oor beoogde projekte van die munisipaliteit wat geruime tyd al beplan word en vertrou dat hierdie projekte vinnig voltooi sal word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button