Motorryers wat al warm onder die kraag is oor die vertraging in die uitreiking van hul rybewyse, is stééds hande in die hare.
Sommige inwoners van Bela-Bela wag al sedert verlede jaar vir hul rybewyse.
’n Werkstaking het verlede jaar by die Driving License Card Account-afdeling (DLCA), wat die lisensies namens die departement van verkeer hanteer en uitreik, plaasgevind. Dit het daartoe gelei dat aansoeke opgehoop het en mense sonder geldige rybewyse was.
Volgens die departement sal mense wat aansoek gedoen het steeds met hul ou ongeldige rybewys kan bestuur, mits hulle die bewys van aansoek om hernuwing kan toon. Hulle is intussen gedwing om vir tydelike lisensies aansoek te doen.
Die staking het in Desember 2018 tot ’n einde gekom en die agterstand is nou verby, het Ismael Mnisi, nasionale verkeerswoordvoerder, vroeër aan Die Pos gesê.
Volgens Kabelo Mosito, woordvoerder van die Bela-Bela-munisipaliteit, is daar die afgelope week 2 000 rybewyse by die verkeersafdeling in die dorp afgelewer en word nog meer verwag. Lesers wat dié blye nuus verlede week ontvang het, het egter Die Pos gekontak en woedend gereageer omdat hulle lisensies stééds nie daar is nie.
“Mense wat reeds aansoek gedoen het en nog op hernuwing van rybewyse wag, word aangemoedig om die verkeersafdeling te skakel. Die beamptes kan navrae op die stelsel naspoor en die persoon inlig of die lisensies beskikbaar is of nie. Dit sal die lang gewag in rye uitskakel, het hy gesê.
Om alles te kroon, was daar op Dinsdag 11 Junie probleme met die telefoonlyne, maar Mosito het Die Pos verseker dat hierdie diens nou in werking is.
Aansoekers kan die verkeersafdeling in kantoorure van 08:00 tot 16:00 by tel. (014) 736 8010 skakel om uit te vind of hul lisensies daar is.
* Mnisi het vroeër ook aan Die Pos gesê mense kan vir hom e-pos stuur na mnisi@dot.gov.za(.)



