Ruiters draf baie kilometers kaf
Elf langasemruiters van die Waterberg-uithouritklub het die eerste naweek in Junie aan ’n uithourit by Sondela-natuurreservaat deelgeneem.
Volgens Marietjie van der Merwe van die klub is die rit ’n jaarlikse instelling en die beste manier om die Bosveld te verken — van ’n perd se rug af.
Meer as 200 ruiters het deelgeneem. Die Premier-uithouritklub het afstande van 160 km, 120 km, 80 km en 40 km aangebied.
Daar het ’n paar Nylies uitgeblink. Luan Pretorius op Deo Gratias Vanilha was die vierde kinderruiter in die 80 km en Anika Swart op Arkab Frieda was vyfde. Lizette Enslin op Deo Gratias Fantasia was sewende in die liggewigafdeling van die 80 km.
Kara van der Merwe op Deo Gratias Ounooi, Jani Stapelberg op Whisper, Hein Pretorius op Deo Gratias Rosali, Schalk van der Merwe op Zeena en Marietjie van der Merwe op Nazee het almal die 40 km-rit voltooi.
Twee ruiters van die klub gaan in Julie aan die nasionale uithouritkampioenskap in Fauresmith deelneem. Lize Stapelberg en haar perd, Deo Gratias Yadviqa, gaan die 200 km vir die eerste keer aandurf. Marietjie van der Merwe en Deo Gratias Zeena sal vir die vierde agtereenvolgende jaar die rit aanpak.



