Dramagroep vermaak bejaardes by sop-aand
Die Naboom Tehuis vir Bejaardes het weer ’n gesellige sirkel-sop-aand vir hul inwoners en die gemeenskap van Mookgophong aangebied.
Die gesellige ete met heerlike sop en vars brood is op Vrydag 14 Junie om 18:00 gehou.
Daar was 120 vrolike gaste wat die verskeidenheid sop en vermaak geniet het. Die heerlike sop was alles skenkings en het gewissel van ’n lekker dik groentesop, ’n luukse biltongsop, spek-en-ertjiesop, romerige pampoensop en noedelsop met vleis in. ’n Verskeidenheid vars tuisgebakte brode en rolletjies is saam met die sop bedien.
Hercules Louw (snr.), bestuurder van die tehuis, het die aand as seremoniemeester opgetree. Hoërskool Hans Strijdom se Drama Akademie, onder leiding van Antoinette Viljoen, het die gehoor vermaak met monoloë, prosa, poësie en selfs ’n paar sangitems.
“Dit is ’n groot voorreg vir die Drama Akademie om deel te wees van gemeenskapsprojekte soos hierdie. Die Akademie is juis op die been gebring om kultuur onder die jeug en in die gemeenskap te bevorder,” het Viljoen aan Die Pos gesê.
Dit was ’n koue wintersaand, maar die jongste in die groep, die vierjarige Chloé Viljoen, het die gaste en bejaardes se harte warm laat klop met haar pragtige sangitem en gedramatiseerde poësie.
Die Drama Akademie tree op Maandag 22 Julie by die Bosveld-kunstefees in Mokopane en in Augustus by Laerskool Eugène N. Marais in Mookgophong se kultuurfees op. Viljoen het in Februarie met die Akademie begin en leerders is baie opgewonde oor die toekoms van die dramagroep.



