Nie ’n enkele veiligheidswag het glo snuf in die neus gekry toe ’n groep booswigte in die vroeë oggendure van Dinsdag 11 Junie die Bela Mall onder valse voorwendsels betree het nie.
Die boosdoeners het die Cape Union Mart-winkel in dié sentrum in die oog gehad.
Greyling Lamprecht, sentrumbestuurder, het aan Die Pos gesê die verdagtes het net voor 06:00 by die Mall opdaag en personeel oortuig dat dit ’n roetinebesoek was om ou voorraad van die winkels op te laai of aflewerings te doen. Die wagte het daarom geen onraad vermoed nie.
Die vyf verdagtes het die wagte se toestemming gevra om toegang tot die Mall se parkeerterrein te kry.
Volgens Lamprecht kan daar duidelik op die veiligheidskameras se beeldmateriaal gesien word hoe die booswigte op en af in die Mall se gange geloop en rondkyk het om seker te maak dat die wagte buite sig is.
Daarna het hulle die glasvenster aan die voorkant van die Cape Union Mart-winkel gebreek en verskeie items gebuit voordat hulle vinnig uit die parkeerterrein gevlug het.
Die waarde van die gesteelde items beloop ongeveer R240 000, het Lamprecht gesê.
Die diewe het in ’n nuwe model wit Isuzu-bakkie deur ’n oop hek in die parkeerterrein gevlug.
Voorlopige ondersoeke toon dat hulle moontlik vooraf met die hek se motor gepeuter het.
Hoewel die nommerplaat op die bakkie duidelik gesien kan word, is daar vasgestel dat dit vervals is, het Lamprecht aan Die Pos gesê.
Die polisie ondersoek die saak.
’n Nuwe maatreël is intussen by die Mall ingestel dat mense wat die Mall in die vroeë oggend- en na-ure besoek, ’n permit aan die wagte moet toon voordat hulle toegang tot die perseel kan kry, het Lamprecht gesê.



