
Henk van de Graaff, voorsitter: TLU SA, eiendomsregkomitee, skryf:
Die Transvaalse Landbou-unie (TLU SA) neem kennis daarvan dat die presidensiële raadgewende paneel oor grondhervorming en landbou sy verslag aan pres. Cyril Ramaphosa oorhandig het.
TLU SA is baie skepties oor die verslag en koester geen positiewe hoop oor die inhoud daarvan nie. TLU SA is geen geleentheid gebied om enige insette daarin te lewer nie terwyl ons reeds etlike jare gelede ons plan vir volhoubare landbou bekendgestel het. Nie die regering of enige van sy instellings het enige belangstelling daarin getoon nie; waarskynlik omdat dit fokus op die vryemarkbeginsels.
Die feit dat daar ’n minderheidsverslag saamgestel is — ook vanuit georganiseerde landbou omdat ook hul insette nie vervat is in die finale verslag nie — versterk die vermoede dat hierdie verslag net ’n eggo is van die regering se sosialistiese standpunte, sonder om die aktiewe landbougemeenskap se voorstelle te oorweeg. Dit gaan waarskynlik weer meer van ’n polities-ideologiese dokument wees, eerder as ’n ekonomiese dokument wat op groei fokus.
TLU SA stel dit op rekord dat ons ons nie gebonde ag aan enige bevinding of voorstel in die verslag nie en dat daar volledig op die inhoud gereageer sal word sodra dit amptelik bekend gestel word.



