
Karel Niewenhuis, adjunk- provinsiale leier van die Vryheidsfront Plus, skryf:
Feëverhale sus die goedgelowiges aan die slaap, gee voor dat die onmoontlike haalbaar is en versterk die hoop vir ’n rooskleurige toekoms. Indien ’n staatsrede aan hierdie vereistes voldoen, verwar onkundiges feëverhale met die realiteit.
Anders as oplossings vir probleme wat Suid-Afrika oor ‘n afgrond stuur, is die opstel van hierdie probleme eenvoudig. Oplossings vra vir buigsaamheid, om eerlik hand in eie boesem te steek, die neem van besluite wat nie op gewildheid gebaseer is nie en deskundiges met begrip vir die situasie in Suid-Afrika. In die staatsrede deel president Cyril Ramaphosa probleme in vyf doelwitte en sewe prioriteite in. Hieruit vloei weinig waarvan landsburgers nie bewus is nie en waarvan die president nie alreeds melding gemaak het nie. Die doelwitte grens aan die belaglike aangesien dit die opdrag is van enige regering wat sy sout werd is.
Voorbeelde is dat geen mens honger sal wees nie, die ekonomie moet groei om aan te pas by ’n groeiende bevolking, miljoene mense moet werk en beter opvoeding kry. En misdaad moet gehalveer word. Elkeen van bostaande word deur statistiek ’n uitklophou gegee. Om enkeles uit te sonder: die voorspelling van ekonomiese groei vir 2019 is van 1.7% na 1.5% afgeskaal; einde Maart was daar byna 4 miljoen werklose jongmense. Dis sterk te betwyfel of die regering oor die wil en middele beskik om misdaad te halveer. Om na die halvering van ’n hemelhoë misdaadsyfer te verwys, is in elk geval onbevredigend.
As die kersie op die spreekwoordelike koek kondig die president die bou van ’n megastad en blitstrein aan. En dit terwyl die huidige spoorstelsel in duie stort en miljoene op waglyste vir basiese behuising is. Sal die opgradering en integrering van die huidige stelsels en stede nie wensliker wees nie?
Wat in die staatsrede nie genoem word nie, skree gewis die hardste: sekerheid van eiendomsreg. Steeds tas beleggers en veral die landbousektor in die duister rond. Troospryse en vaaghede sit nie kos op die tafel nie, hou nie die ligte aan nie en leer niemand lees en skryf nie. Die werklikheid het ’n manier om korte mette met feëverhale te maak. Gaan die regering dit agterkom wanneer dit te laat is? Of is die president bloot nie daartoe in staat om iets meer substansieel na die tafel te bring nie?



