
Gawie Richter van Modimolle skryf:
Op Dinsdag 18 Junie het erewildbewaarders die publiek op ’n nasionale televisiekanaal vir skenkings gevra om geriewe vir die beskerming van renosters aan te skaf. As tranetrekker is ’n dooie renoster vertoon.
Myns insiens het die algemene publiek nie die vaagste benul wat agter die kap van die byl skuil nie! Want behalwe vir ’n rower is ’n renoster tans vir ’n boer nie ’n enkele sent werd nie. Nog minder afgesaagde horings wat in ’n brandkluis lê.
Onthou Cites (die kantoor van handel in bedreigde spesies) het die sê. Slegs die regering is by magte om ’n kentering mee te bring, maar het dit die afgelope 25 jaar nagelaat. Die gevolg is dat renosters in wildtuine uitwissing in die gesig staar en daar tans meer van hierdie diere in privaat besit is. Alle onkostes is vir renosterboere se eie sak.
Met sakke vol geld en so nou en dan ’n toneelopvoering om skenkers te beïndruk, sal sogenaamde bewaringsvenootskappe om renosters te beskerm, alle pogings om wettig met renosterprodukte handel te dryf, verongeluk.
Boere staan nie bakhand vir donasies nie, maar slegs om renosterprodukte wettig van die hand te sit.
Steun dit!



