Regering se plan met superstede ’n resep vir rampspoed, sê party
Met die huidige toestand van munisipaliteite waar dienslewering heeltemal agteruit gegaan het weens die swak bestuur en ineenstorting van infrastruktuur, kan die VF Plus nie sien hoe die skep van superstede sal help om hierdie probleem op te los nie.

Philip van Staden, Vryheidsfront Plus-LP en parlementêre woordvoerder: Infrastruktuur en openbare werke, skryf:
Die regering se plan met die skep van superstede in Suid-Afrika is ’n resep vir rampspoed aangesien die huidige stede en dorpe nie eens in stand gehou kan word nie.
Pres. Cyril Ramaphosa het tydens sy repliek ná die staatsrede die hoop uitgespreek dat sulke “superstede” teen 2030 ’n verdere 10 miljoen mense sal kan huisves. In dieselfde asem het hy gesê die huidige situasie in stede is nie volhoubaar nie en dat daar reeds ’n agterstand met die bou van skole, klinieke en hospitale is.
Minister Patricia de Lille het hieroor aangekondig dat die privaat sektor betrokke moet raak by die bou en instandhouding van infrastruktuur vir ’n tydperk van 20 jaar, waarna dit weer aan die regering oorgedra moet word.
Met die huidige toestand van munisipaliteite waar dienslewering heeltemal agteruit gegaan het weens die swak bestuur en ineenstorting van infrastruktuur, kan die VF Plus nie sien hoe die skep van superstede sal help om hierdie probleem op te los nie.
Die VF Plus is van mening dat so ’n stap bestaande stede in ’n groter gemors sal dompel as wat tans die geval is. Indien die privaat sektor nie by die minister se voorstel byval vind nie, sal hierdie plan van superstede die huidig rampspoedige situasie net vererger.
Dit is goed om ideale oor die toekoms te hê, maar in ag genome Suid-Afrika se huidige politieke omstandighede, wanbestuur en korrupsie, is dit duidelik dat superstede soos in Amerika nie haalbaar is onder ’n ANC-regering nie.
Die algehele ontvolking van die platteland sal spoedig gekeer moet word en die ideale model sal wees dat rasgedrewe wette soos Regstellende Aksie (RA) en Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) geskrap moet word, misdaad uitgeroei moet word en Suid-Afrika aantreklik gemaak moet word vir buitelandse beleggers.
Sodoende sal ekonomiese groei bewerkstellig word en voldoende werkgeleenthede sal regdeur die land geskep word. Die platteland se ekonomieë, werkskepping en groei kan sodoende gestimuleer word.
Die VF Plus sal wil sien dat alle bestaande infrastruktuur eers opgegradeer, reg bestuur en beheer word voordat die regering begin droom oor superstede.



