Drie gewapende rowers het op Woensdag 26 Junie toegeslaan op ’n sakeonderneming in Mookgophong.
Volgens Louis Richards, eienaar van die Plaasmark in Thabo Mbekistraat, het ’n gewapende man omstreeks 18:30 die winkel binnegekom en die twee kassiere beveel om plat te lê. Richards was in sy kantoor en het gesien wat gebeur. Hy het dadelik sy pa gebel en vertel wat besig is om te gebeur. Nog twee mans het ingekom, die deure toegemaak en wapens op die personeel en die kliënte in die winkel gerig.
Volgens een van die kassiere het hulle aanvanklik gedink iemand skeer die gek met hulle, maar toe een van die mans sy wapen oorhaal, het hulle besef dat dit ’n rooftog is.
Richards het aan Die Pos gesê die rowers het klapmusse gedra, maar dit later afgehaal. Volgens die personeel het een van die rowers gevra waar die eienaar is, waarna die rower na die agterkant van die winkel is en Richards in sy kantoor aangetref het. Daar het hy ’n onbekende bedrag geld uit die kluis gevat.
Richards het toe egter reeds hulp ontbied. Die veiligheidswag wat by die kassiere gestaan het, het ook intussen herhaaldelik ’n noodknoppie gedruk om hulp te ontbied.
“Die booswigte het toe geld uit die kasregisters gevat terwyl die kassiere plat bly lê het. Hulle het ook selfone en die motorsleutels van een van die kliënte gevat. Daarna is hulle met dié motor, ’n Volkswagen Polo, weg,” het Richards gesê.
Die oomblik toe hulle uit die winkel is, het Richards hulle in sy eie motor agternagesit. Een van die rowers wat te voet was, het verskeie skote op Richards en sy pa, wat intussen opgedaag het, geskiet. Volgens Richards het hy die rower in sy voertuig gevolg en daarin geslaag om hom ’n paar honderd meter van die winkel af met sy motor te stamp. Die rower het toe sy wapen laat val en gevlug. Verskeie 9 mm-patroondoppies is op die toneel gevind.
Die kliënt se motor is by ’n voetbrug gelaat, waarna die rowers waarskynlik oor die voetbrug in die rigting van Sektor 1 gevlug het.
Richards en sy personeel was baie ontsteld en getraumatiseerd ná die gebeure.
Niemand is nog in verband met die voorval aangekeer nie.
Richards het gesê hy het al voorheen in Pretoria ’n gewapende rooftog beleef. “Dit gaan nie vir my oor die geld nie, maar oor die mense. Ons is so moeg vir misdaad dat ’n mens partykeer nie eens dink dat jy moontlik verkeerd optree nie,” het hy gesê.
Richards het groot lof en dankbaarheid vir die wyse waarop die publiek gereageer het en dadelik hulp ontbied het.



