Die gesin was rasend van bekommernis toe hul geliefde dierekind, Maximus, of Max soos hulle hom noem, ’n plekkie agter in hul erf gekry het om uit te kom en die strate ingevaar het.
Volgens Desiree Jacobs het Max, ’n pitboelterriër, reeds twee keer tevore uit hul erf gekom terwyl bouers op ’n aangrensende erf ’n muur opgerig het. Die Jacobs-gesin het toe voorsorg getref dat Max nie weer kan ontsnap nie, maar hulle het nie met Max se vindingrykheid tred gehou nie.
“Ons het hom elke keer vinnig opgespoor en huis toe geneem, maar op Donderdag 20 Junie kon ons hom nie kry nie. My ma het Donderdagoggend ’n oproep ontvang om te sê dat Max in die strate ronddwaal en ons het dadelik gery om na hom te gaan soek. Ons kon hom nêrens kry nie,” het Desiree se dogter, Jeanette Jacobs, gesê.
Jacobs en haar seun, Stephan, het tot in die bosagtige dele van die dorp gesoek en herhaaldelik op sosiale media foto’s geplaas in die hoop om hom te kry, maar tevergeefs.
In ’n laaste poging het Desiree besluit om plakkate by al die vulstasies in die dorp op te sit en ’n beloning van R3 000 aangebied.
Sy het die plakkate gedruk en op Maandag 24 Junie begin versprei. By die tweede plek waar sy was, ’n vulstasie in Euphorbia Park, het een van die petroljoggies wat die gesin goed ken, hulp aangebied en sy het toestemming gevra om ’n foto in hul venster aan te bring.
“Toe hy die foto van Max sien, het hy dadelik vir my gesê dat Max by hom is. Ek het gedink dat dit nie moontlik kan wees nie. Ek was heel verstom toe hy weer sê dat hy die hond het,” het sy aan Die Pos vertel.
Nadat die joggie van diens af is, is die gesin saam met hom na sy huis in sektor 1 waar hulle Max ongedeerd gekry het. Max was wel vasgebind, maar het kos en water gekry. Die petroljoggie het ook te kenne gegee dat hy ’n bietjie bang was vir Max en daarom het hy hom vasgemaak.
Volgens die petroljoggie het hy op Donderdag 20 Junie, ’n onbekende man met Max gesien loop en hom gevra of hy die hond kon kry. Die man wou eers niks weet nie, maar het later die hond teen R150 aan hom verkoop. Hy het Max daarna huis toe geneem.
“Ons harte loop oor van dankbaarheid aan elke liewe persoon wat gehelp het om na Max te soek. Hy is waarlik deel van ons gesin. Ons is verstom oor hoeveel mense hulp aangebied het. Ek wil die Naboom Dierebeskermingsgroep spesiaal bedank. Ek het soveel respek vir hulle toewyding en omgee vir diere. Hulle het ons ondersteun en ons kan nooit genoeg dankie sê nie,” het die Jacobs-gesin op Facebook geskryf.
“Ek is seker dat Max ook dankie sou sê, want hy is baie bly om tuis te wees,” het Jeanette gesê.
Volgens ’n inwoner wat anoniem wil bly, moet honde-eienaars hul diere veilig hou, want in baie gevalle word hulle in hondegevegte gebruik.



