
Pieter Raath, Bela-Bela, skryf:
’n Sondagkoerant het onlangs ’n onderhoud met Bongani Baloyi, DA-burgemeester van Midvaal, gepubliseer.
Dit is duidelik dat hy stewig in die saal is. Die munisipaliteit floreer, korrupsie is onder beheer, munisipale amptenare is op hul tone en dit is die enigste munisipaliteit in Gauteng wat ’n skoon oudit ontvang het.
In Johannesburg en Tshwane, waar die DA ná die laaste munisipale verkiesing met die steun van die EFF beheer oorgeneem het, het sake die afgelope drie jaar aansienlik verbeter. Korrupsie is blykbaar grootliks uitgeroei, korrupte amptenare tot verantwoording geroep en reuseskuld wat onder korrupte ANC-besture opgebou is, is grootliks afbetaal.
Selfs in Mandelabaai het sake aansienlik verbeter totdat Athol Trollip, moontlik deur sy onversetlike houding, beheer vir die DA verloor het.
In teenstelling daarmee lyk dit asof dinge in Modimolle, wat ook deur die DA in samewerking met die EFF beheer word, bloedweinig, indien enigsins, verbeter het. Trouens, die munisipaliteit is selfs onder administratiewe bestuur geplaas.
Amptenare word telkens verwyt vir die wanbestuur, wat wys dat die raad nie in beheer is nie. Die vraag is dus of daar enige spesiale omstandighede in Modimolle heers en of die burgemeester en haar raad gewoon net nie oor die vermoë beskik om die munisipaliteit doeltreffend te bestuur nie?



