Dis nie die ánder mense op die pad nie; dis óns
Die Nissan NP300 Hardbody-reeks bied moontlik die beste waarde vir geld in ons lewendige bakkiemark.
In baie gevalle is die immergroen Nissan goedkoper as sy Chinese mededingers.
Tog het daar verlede jaar omtrent ’n mediabom gebars nadat Global NCAP besluit het Afrika het veiliger motors nodig. Hope kritiek en slegte publisiteit het op die Nissan NP300 se swak vertoning in die botsingtoets gevolg. Die Nissan het nul sterre vir volwasse veiligheid gekry nadat die kajuit en veiligheidstelsel se struktuur meegegee het en bykans geen energie tydens die botsing kon absorbeer nie. Die stuurkolom het in een stuk gebly en gevaarlik in die bors van die popbestuurder gestamp wat in die geval van ’n mens waarskynlik tot lewensgevaarlike beserings sou lei.
Verskeie artikels, berigte en webwerwe het sensasie aangeblaas met stellings dat sulke gevaarlike motors nie op ons paaie hoort nie en dat internasionale maatskappye soos Nissan glad nie toegelaat behoort te word om sulke “doodskiste” van die hand te sit nie.
Aan die ander kant moet ons die vraag vra of ons onveilige motors werklik die enigste probleem is. Arrive Alive se webtuiste sê menslike gedrag is die grootste oorsaak van ongelukke.
Padgebruikers moet deurgaans op die uitkyk wees vir bestuurders wat onverskillig optree. Dronk, nalatige, onbevoegde, haastige en argelose mense skuif daagliks agter stuurwiele in. Baie meer voertuie is deesdae onpadwaardig en ons paaie se swak toestand is nog faktore wat in ag geneem moet word.
Tel gerus hoeveel verkeersoortredings ’n mens daagliks waarneem of hoeveel reëls jy dalk self oortree. Hoe gereeld is daar vragmotors sonder ligte op die snelweë of word vragmotors op ’n soliede lyn verbygesteek?
Sommige verkeersbeamptes wat wet en orde moet handhaaf, swig voor omkoopbetalings. Hoe dikwels sien ’n mens nie dat daar alkoholiese verversing so in die ry gebruik word nie of hoeveel leë bottels uit ’n kajuit gelaai word nie?
Ons kinders word daagliks aan ongeduldige en arrogante optrede blootgestel waar hulle by skole op- en afgelaai word. Dié waardes word by hulle vasgelê.
Om verantwoordelik, versigtig en veilig te bestuur en by die padreëls te hou, bly ons verantwoordelikheid en kan nie op motorvervaardigers afgeskuif word nie.
Solank as wat ons as padgebruikers nie ons gedrag verander nie, sal selfs die meeste aantal veiligheidsterre nie die slagting op ons paaie kan beperk nie.
- Paul Smith is ’n motorliefhebber, gesinsman en eienaar van die Spur op Bela-Bela.



