Waterberg Tourism is ’n juweel van geleenthede
Daar was groot belangstelling tydens die swierige bekendstelling van Waterberg Tourism (WT) op Donderdag 25 Julie in Vaalwater se boeresaal.
Judi Groenewald, een van die sprekers by die bekendstelling, is reeds 25 jaar in die bedryf as toerisme-ontwikkelingskonsultant. Sy het tydens haar spreekbeurt gesê die totstandkoming van WT is ’n reusebate vir die ontwikkeling van die streek.
Groenewald het gesê daar is logistieke uitdagings om so ’n organisasie te skep en bestuur, maar met die betrokkenheid van die hele gemeenskap sal dié organisasie in sy doel kan slaag.
Een van die groot uitdagings in só ’n nie-winsgewende organisasie, is ledewerwing, mobilisering van vrywilligers, asook die betrokkenheid van die gemeenskap, regering en sakelui.
Die organisasie kry tans geen regeringshulp nie en word deur die gemeenskap bestuur en gefinansier.
Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, was ook ’n spreker by die geleentheid. Sy het benadruk watter groot en positiewe rol toerisme in die omgewing se groei kan speel. Van Staden het gesê toerisme lei tot ekonomiese vooruitgang, werkskepping en sosiale groei.
WT speel ’n belangrike rol in die bemarking van toerisme aan die gemeenskap, maar het ook ten doel om die Waterberg aan mense buite die gemeenskap te bemark en bevorder.



