
Dr. Pieter Groenewald, Vryheidsfront Plus-leier, skryf:
Die verslag van die presidensiële paneel oor grondonteiening sonder vergoeding in Suid-Afrika is ’n klug en ’n vermorsing van belastingbetalers se geld aangesien die ANC se besluit om dit deur te voer, lank reeds bekend is.
Die ANC het reeds aan die einde van Julie verlede jaar deur pres. Cyril Ramaphosa gesê die proses is aan die gang om die grondwet te wysig, en dat niks dit sal keer nie. Verlede Donderdag is ’n mosie in die parlement aanvaar wat die proses verder voer om art. 25 van die grondwet te wysig om voorsiening te maak vir onteiening sonder vergoeding.
Die VF Plus wil dit benadruk dat die wysiging aan die grondwet en die aanvaarding van onteiening sonder vergoeding, die land se ekonomie sal vernietig. Dit sal Suid-Afrika onomkeerbaar op die Zimbabwe-roete plaas.
Vir die ANC om te sê die proses moet deur ’n onteieningswet onderlê word, is misleidend. Daar word reeds verwys na die betrokke wysigingswetsontwerp rakende onteiening deur byvoorbeeld grond wat net vir spekulasiedoeleindes gehou word, sonder vergoeding te kan onteien.
Die enigste positiewe aanbeveling van die presidensiële paneel is dat ’n behoorlike grondoudit gedoen moet word om te bepaal wie hoeveel grond in Suid-Afrika besit. Die VF Plus vra al jare lank hiervoor aangesien die ANC die narratief dat blankes meer as 80% van die grond in die land besit, vir politieke doeleindes misbruik. Hierdie leuen kan slegs weerlê word deur ’n akkurate grondoudit.
Daar moet in gedagte gehou word dat die grondwet wel gewysig moet word met ’n tweederdemeerderheid, maar wanneer dit eers gedoen is, kan ’n gewone wet oor die kwessie daarna gebruik word met ’n blote meerderheid van 50% plus een.
Wat sou in die toekoms gebeur wanneer Suid-Afrika ’n ander president kry wat grond wil nasionaliseer? Dan is ’n tweederdemeerderheid nie nodig nie, maar slegs ’n gewone meerderheid.
Die presidensiële paneel se verslag bevestig bloot die bestaande standpunt van die ANC om grond te onteien sonder vergoeding en dit is heeltemal onaanvaarbaar vir die VF Plus.



