DNA-bewyse het Buti Harry Mohlala se doppie geklink. Hy is skuldig bevind aan drie klagtes van verkragting en is vir baie lank uit die gemeenskap verwyder. Landdros Pieter Manthata het hom skuldig bevind op ’n klag van die verkragting van ’n sesjarige meisie in Phagameng in 2016. Die kind kon vanweë haar jong ouderdom nie getuig nie en staatsaanklaer Liezl del Frate het op die getuienis van ’n forensiese maatskaplike werker, wat namens haar getuig het, gesteun. Mohlala is tot lewenslange tronkstraf gevonnis.
Hy is ook tot 10 jaar tronkstraf gevonnis omdat hy ’n 16-jarige meisie verkrag het en is nog ’n lewenslange vonnis opgelê vir die verkragting van ’n 13-jarige meisie. Albei die ouer kinders het in camera via kringtelevisie getuig.
Tumi Johannes Mohale en Phillip Teffo is albei lewenslange tronkstraf opgelê vir die verkragting van ’n 10-jarige seun in Phagameng in 2017. Staatsaanklaer Doria Groenewald het in die hof aangevoer dat Teffo die seun, wat by familie gewoon het ná sy ouers se dood, gevra het om hom te help soek na ’n R20-noot wat hy verloor het. Mohale het die seun glo in ’n huis ingeboender waar hy verkrag is. Die jong kind was glo ’n goeie getuie in die hof en dit het tot die skuldigbevindings gelei.
In nog ’n saak voor Manthata in die Modimolle-streekshof is Asaf Tshokolo Sesoma vir 20 jaar, sonder die vooruitsig van parool, tronk toe gestuur nadat die hof beslis het dat hy ’n 10-jarige meisie in 2016 in Thabazimbi verkrag het. Sesomo is glo ná ’n ander voorval deur die gemeenskap vasgetrek en tydens die polisie-ondersoek het dit aan die lig gekom dat hy met dié verkragting verbind word, het die staat in die hof aangevoer.



