
Die Prinsloo’s is vroeg een oggend in Junie in hul huis deur vyf rowers oorval en met ’n handwapen en AK47-aanvalsgeweer aangehou. Hulle is vasgebind terwyl die rowers die huis deursoek en geplunder het. Die rowers het met die buit op die vlug geslaan, het die polisie gesê.
Drie verdagtes, Justice Mudau (24), William Bapela (69) en Caswell Masuku (33), is kort ná die voorval in hegtenis geneem en van huisroof aangekla. Gesteelde items, wat aan die Prinsloos behoort, is volgens die polisie in hul besit gevind.
Die drie is onderskeidelik in Mokopane en in Hammanskraal deur die polisie, asook lede van die Heritage Protection Group (HPG), aangekeer. Die voertuig wat die rowers glo gebruik het om van die toneel te vlug, is in Soshanguve buite Pretoria gevind en die polisie het daarop beslag gelê. Die voertuigeienaar word nie met die saak verbind nie.
Die Bela-Bela-landdroshof het aanvanklik borgtog aan die drie verdagtes geweier, maar nadat nuwe getuienis tydens die ondersoek aan die lig gekom het, is daar op Woensdag 31 Julie borgtog van R2 000 aan Masuku toegestaan en is hy op borgvoorwaardes vrygelaat.
Mudau en Bapela is ook die geleentheid gegun om weer ’n borgtogaansoek te bring. Mudau word voorts daarvan aangekla dat hy onwettig in die land is. Hy is van Zimbabwe.
Die saak is uitgestel na Donderdag 29 Augustus. Mudau en Bapela sal na verwagting borgtogaansoeke op dié dag bring en bly intussen in aanhouding.



