Inwoners sirkuleer petisie oor tolhekke op N1
“Indien die tolhekwagtye drasties verkort word, kan Limpopo as toeristebestemming van formaat bemark word,” lui die petisie.
Inwoners van Bela-Bela en omgewing het tydens die jongste veiligheidsvergadering op die dorp besluit om ’n petisie op te stel in ’n poging om die wagtye vir motorryers by die tolhekke op die N1-snelweg te verkort.
Die petisie sluit voorstelle in om die tolhekke meer doeltreffend te laat funksioneer.
Rolspelers het tydens die vergadering op Donderdag 11 Julie by die Bela-Bela-polisiestasie op dié petisie besluit. Daar is op die vergadering gesê die Waterberg verloor besoekers weens die lang wagtye by tolhekke tydens langnaweke en skoolvakansies, wat groot frustrasie vir toeriste veroorsaak.
Dié chaos het gedurende Paasnaweek vanjaar landwyd opslae gemaak nadat ’n video op sosiale netwerke versprei is wat wys hoe gefrustreerde motorryers wetteloos by die tolhekke aan die verkeerde kant van die pad en oor die middelman ry.
In die video kan duidelik gesien word hoe voertuie kilometers ver by die Carousel-tolhek opdam.
Die Bakwena-konsortium, wat in beheer van die N1- en N4-snelweë is, is voorheen na die veiligheidsvergadering in Bela-Bela genooi om oplossings vir die voortslepend probleem te bespreek.
Bakwena-verteenwoordigers het toe gesê die moontlikheid word ondersoek om die wagtyd by tolhekke na 10 minute te verkort en om daarna tolhekke oop te stel om verkeersdruk te verlig.
Dié planne is egter nog nie in werking gestel nie.
Van die voorstelle wat nou gemaak word, is dat motorryers met enige debietkaart kan betaal, pleks van slegs kredietkaarte soos nou die geval is. Daar word ook voorgestel dat ’n tap and go-stelsel (waar mense hul bankkaarte teen ’n skandeerder kan hou en die fooi dan direk van hul rekening afgetrek word) in gebruik geneem word.
“Indien die tolhekwagtye drasties verkort word, kan Limpopo as toeristebestemming van formaat bemark word,” lui die petisie.
Charmaine van Wyk, Bakwena-woordvoerder, het by navraag aan Die Pos gesê Bakwena is bewus van die petisie.
“Ons probeer altyd tydens maandeindes, oor langnaweke en gedurende vakansietye om die wagtye by die tolhekke so kort moontlik te hou en het ook samewerkingsooreenkomste met die verkeersowerhede,” het sy gesê.
Sy het voorts gesê Bakwena is in die proses om ’n versperring op die middelman by die Carousel-tolhek aan te bring om wetteloosheid te bekamp.
Van Wyk het motorryers aangeraai om hulle ritte beter te beplan en om piektye smiddae op Vrydae en Sondae te probeer vermy.
Bakwena sal op die volgende veiligheidsvergadering op Donderdag 8 Augustus amptelik kommentaar oor die petisie lewer, het sy gesê.



