
Armand Cloete, Vryheidsfront Plus-LP in die Nasionale Raad van Partye en woordvoerder oor grondsake, skryf:
Terwyl die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza, vra om kalmte oor grond in Suid-Afrika, is dit die ANC wat self gemoedere opjaag met beleidsonsekerheid oor die saak.
Didiza het tydens ’n sake-ontbyt op Woensdag 7 Augustus by die Universiteit van die Vrystaat (UV) gevra dat Suid-Afrika kalm en sober moet bly om besluite oor grond te neem.
Die ANC se beheptheid met die verlede as verskoning vir sy eie mislukkings is die rede waarom die debat nie in kalmte en met redelikheid gevoer kan word nie.
Didiza se departement sal in die huidige boekjaar meer as ’n kwart van sy begroting aan grondhervormingsprogramme bestee. Intussen weet Suid-Afrika steeds nie hoeveel grond in regeringsbesit is nie.
Die onlangse verslag deur die presidensiële taakspan oor onteiening sonder vergoeding het weer die noodsaaklikheid van ’n grondoudit benadruk, maar die ANC en EFF gaan voort met sy sondeboktaktiek waar landbouers die skuld vir die grondkwessie kry.
Solank daar nie ’n behoorlike en betroubare oudit oor grond gedoen word nie, sal die debat nie kalm kan voortgaan nie.
Die VF Plus sal aanhou terugslaan teen die ANC se gebrek aan beleidsekerheid oor grond en sy verdraaiing van die waarheid oor die aangeleentheid deur skadelike propaganda met feite te beveg.



