Die egpaar is erg getraumatiseerd en het gevra dat Die Pos nie hul identiteit bekend maak nie.
Hulle het inwoners gewaarsku om uiters versigtig te wees en nie in dieselfde strik as hulle te trap nie.
Sers. Frans Maponya, Bela-Bela-polisiewoordvoerder, het gesê die egpaar was aanvanklik nie tuis nie en is deur bure meegedeel dat die groep mense by hul huis in Apiesdoringlaan gewag het.
“Die egpaar het later die dag opgedaag en die groep voornemende huiskopers in hul huis genooi. Nadat een man na die badkamer gegaan en teruggekeer het, het dié man en nog een handwapens uitgehaal en dit teen die man en vrou se koppe gedruk.
Die verdagtes, twee mans en twee vroue, het die egpaar vasgebind en die huis deursoek.
Die rowers het kontant, juwele, eetgerei, selfone en skootrekenaars gesteel, het Maponya gesê. Die rooftog het helder oordag teen ongeveer 14:30 plaasgevind.
“Die egpaar is gelukkig nie beseer nie. Die rowers het, sover vasgestel kon word, in ’n wit Toyota Fortuner sonder nommerplate gevlug,” het Maponya gesê.
Herman Steyn, Die Pos se fotograaf, het aan Die Pos gesê kort voordat die rooftog plaasgevind het, het ’n vrou (vermoedelik een van die booswigte) by Mia de Bruyn, wat in dieselfde straat woon, se huis aangeklop waar Steyn gesit en foto’s redigeer het. Die vrou het vir Steyn uitgevra oor wanneer die ouer egpaar tuis sou wees.
Volgens Steyn het die vrou saam met hom en De Bruyn se ma in die huis gewag terwyl hy besig was met die foto’s. Hy het geen onraad vermoed nie. Hy is later weg Modimolle toe terwyl die vrou steeds daar gewag het.
Die leraars van die NG Warmbad Wes-gemeente, waar die egpaar gemeentelede is, het aan Die Pos gesê hulle is baie dankbaar dat die egpaar nie fisieke leed aangedoen is nie en dat hulle die nodige berading ontvang.



