Rugbyspeler jaag sy drome na
’n Jong rugbyspeler van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong, Ricardo Visser, is gekies vir die Blou Bulle se o.15-span.
Ricardo (15) het aan Die Pos gesê hy wou van kleins af rugby speel. Hy het in Laerskool Voorpos in Pretoria begin rugby speel. Hy is vanjaar verkies tot die Hansieweekspan en die o.16 Verre-Noordspan wat in Julie aan die Bokkieweek deelgeneem het. Hy is ook gekies vir ’n Barbarianspan wat gedurende Julie na Frankryk getoer het. Hy is vir die Bokkieweek se sewesrugbyspan gekies, maar dit oorvleuel ongelukkig met die Blou Bulle se toer.
Ricardo draf as agsteman uit en gaan saam met die Blou Bulle toer om teen ander provinsies speelkans te kry. “Ek sal ook graag flank of enige ander losvoorspelerposisie wou speel,” het hy op ’n vraag van Die Pos geantwoord. Hy droom daarvan om Springbok te word en om eendag aan die wêreldbekerreeks deel te neem. Hy wil graag studeer en wil homself in sportsielkunde of fisioterapie bekwaam.
Ricardo is die jongste van drie kinders. Sy ouer broer en suster woon in Pretoria. Hy hou van ander sportsoorte soos gewigstoot en werpskyf en sy stokperdjies is jag en visvang. “Ek hou van enige vinnige spansport wat uitdagend is,” het hy gesê.
Hy het groot lof gehad vir sy afrigter by die Hansies, Rudolph de Vos, en die wyse waarop hy afrig. Ricardo sê De Vos het ’n groot passie vir sport en vir kinders.
Hy neem ook deel aan gewigoptel en het vanjaar vir Gauteng aan die Suid-Afrikaanse kampioenskap deelgeneem. “Een van die vereistes van dié sport is dat ’n mens baie streng moet let op jou dieet,” het hy gesê.



