BlogsOpinion

Hoofartikel: Woordeboeke is soos manna

Indien ’n mens grootgeword het met ’n woordeboek waar die betekenis van moeilike Engelse woorde in jou moedertaal oopgesluit word, aanvaar jy dit as vanselfsprekend.

Hoewel ek die afgelope 18 jaar as sakebestuurder by Die Pos met die een voet in die sakewêreld en met die ander voet in die joernalistiek staan, het ek my eerste wortels in die beroepslewe in die onderwys geskiet.

Daarom het ek ver teruggedink toe ek onlangs ’n skrywe van die South African National Lexicography Units (SANLU) ontvang oor die bekendstelling van ’n reeks tweetalige woordeboeke wat as hulpmiddel moet dien in skole waar leerders se moedertaal een van ons land se inheemse tale is. Dit is Afrikaans uitgesluit, want ’n tweetalige woordeboek in Afrikaans-Engelse bestaan reeds etlike jare.

 

SANLU se aankondiging het my hart sommer laat bokspring. Want ek het weer my skoolhoujare in die destydse Gazankulu onthou. Dertig jaar gelede om presies te wees. My leerders se moedertaal was Tsonga, maar die onderrigtaal was Engels. Sonder ’n Tsonga-Engelse woordeboek het dié skool se onderwysers die grootste deel van klastyd daaraan bestee om moeilike Engelse begrippe, en veral Engelse vakterminologieë, aan die leerders te verduidelik. Die meeste onderwysers by dié skool was nie Tsonga magtig nie.

Indien ’n mens grootgeword het met ’n woordeboek waar die betekenis van moeilike Engelse woorde in jou moedertaal oopgesluit word, aanvaar jy dit as vanselfsprekend. Sonder dié voorreg is die leerproses egter halsstarrig.

The United Nations Educational, Scientific and Cultural Organization (Unesco) het juis 2019 geoormerk as International Year of Indigenous Languages. Die uitreik van die woordeboeke is dus in pas met Unesco se doelwitte.

Die samestelling en uitleg van die nuwe woordeboeke is goed deurdink en omarm die CAPS-kurrikulum sodat begrippe en woorde wat in dié leerplan voorkom, voorrang in dié woordeboeke geniet.

Vir die grondslagfase (gr. 1-3) verskyn ’n woordeboek waar woordverklarings deur middel van prentjies geskied. Dit is natuurlik ook baie handig vir mense wat graag ’n inheemse taal wil aanleer.

Dan is daar ook woordeboeke waarin die vaktaal vir wiskunde en natuurwetenskap in die intermediêre en senior fase (gr. 4-8) ontsluit word. Dié woordeboeke bestaan tans net in Setswana-Engels en isiXhosa-Engels. Daar word reeds kliphard gewerk om hierdie woordeboeke ook in die land se ander inheemse tale beskikbaar te stel. Volgens SANLU behoort dit in die loop van 2020 en 2021 te verskyn.

Hierdie woordeboeke behoort vir inheemse moedertaalsprekers wat in Engels onderrig ontvang, ’n reusehupstoot te gee. Ek wil my verstout om te sê dat hierdie woordeboeke dalk, in ag genome die agteruitgang van ons land se skole die afgelope drie dekades, die beste waardetoevoeging in ’n baie lang tyd tot ons skolestelsel is.

Related Articles

Back to top button