“Julle het ’n toekoms hier,” sê politieke analis
Sakelui wat bekommerd oor die toekoms is, het op Donderdag 15 Augustus tydens die Waterberg-sakekamer se vergadering met gespitste ore geluister na prof. André Duvenhage, gerekende politieke analis.

Duvenhage, ’n gereelde spreker op radioprogramme, het sy vooruitsigte vir Suid-Afrika in die toekoms gedeel. “Dit is seker die vraag wat ek die meeste hoor,” het hy gesê. “Wat dink jy gaan môre gebeur? Dié vraag was nog selde so relevant soos vandag,” het hy gesê.
“Ons moet die spelreëls ken as ons wil oorleef. Dit is my werk om die gebeure te interpreteer — Suid-Afrikaanse politiek is dinamies aan die verander, maar so ook die internasionale politieke omgewing.”
Hy het beaam dat die land uiterste sosiale en ekonomiese uitdagings het. Daar is meer as 10 miljoen mense wat werkloos is en slegs 7,1 miljoen uit ’n bevolking van sowat 58 miljoen mense betaal belasting. Sowat 17 miljoen mense ontvang sosiale toelae. “Die druk op die beskikbare bronne is groot.” Hy het die geweld in die land gelyk gestel aan ’n lae intensiteit oorlog. “Ons sien geweld op kulturele, etniese, geslags- en arbeidsvlak.”
Hy het voorts gesê dat 80% van die munisipaliteite wanfunksioneel is en staatsentiteite soos Eskom almal in die moeilikheid is.
Ook internasionaal vind groot verskuiwings in die politiek plaas. Daar is volgens Duvenhage ’n verskuiwing van mag van die Weste na lande in die Ooste soos China en Indië. “Vreemde” leiers neem die voortou soos Rusland se Vladimir Putin, Amerika se Donald Trump, Brittanje se Boris Johnson en Noord-Korea se Kim Jong-un. Dié leiers steur hulle min aan openbare mening en volgens Duvenhage dink hy populisme is wêreldwyd aan die uitspeel.
Duvenhage sê Suid-Afrikaners kan drie scenario’s verwag: ’n tyd van “grand rapids and white waters” waar die regering beheer verloor, ’n aangepaste status quo waar die middellyn gehou word of ’n nuwe daeraad, soos wat pres. Cyril Ramaphosa nastreef. “Vir Ramaphosa om suksesvol te wees sal hy ’n groot en drastiese skuif soos dié van F.W. de Klerk destyds moet maak. Wat ek hoor is dat hy die regte besluite vir die land wil maak, maar sy party staan hom teen.” Volgens Duvenhage het die land nou nie ’n president nodig nie, maar ’n staatsman.
“My vermoede is dat die land in die toekoms meer gaan lyk soos die situasie voor 1910. Suid-Afrika kan binne die volgende 50 jaar disintegreer as ’n eenheidsregering en fragmenteer in dele wat hul eie identiteite het.” Hy het genoem dat koning Goodwill Zwelithini reeds gedreig het dat die Zoeloes sal afstig as die regering aan hul grond durf raak.
Dinge wat ’n impak op die politieke terrein kan hê, is dat oudpres. Jacob Zuma nie leë dreigemente maak nie, maar wel bewyse het wat Ramaphosa verbind met die tyd voor 1994 en polities kan sink. Die bewyse voor die Zondo-kommissie na staatskaping teen Zuma en Ace Magashula, ANC-sekretaris, is volgens Duvenhage uiters sterk.
“Die tyd wat voorlê gaan moeiliker wees as die tyd van 1989 tot 1994. Dit wat in die volgende ses maande gebeur, is krities vir die politieke bestel.
“’n Nuwe begin is noodsaaklik. Ek glo dat ons ’n beter toekoms kan skep ten spyte van die moeilike omstandighede. Ek moedig boere aan om grond te koop en sakelui om te konsolideer. Moenie doen wat almal verwag nie. Ek sê vir my kinders: julle het ’n toekoms hier,” het hy gesê.



