Sowat 80 kg kabels is volgens die polisie in hul besit gevind.
Volgens AO George Ledwaba van die Suid-Afrikaanse polisie in Mookgophong, het ’n inwoner, wie se naam weerhou word, die mans glo op heterdaad betrap toe hulle die koperkabels wou verkoop.

Die mans is albei werknemers van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit in Mookgophong. Een beklee ’n senior pos in die elektrisiteitsafdeling. Volgens die polisie het een van die mans glo die elektrisiteitstoevoer afgeskakel sodat die kabels verwyder kon word.
Die mans is albei inwoners van die dorp en het op Maandag 19 Augustus vlugtig in die hof in Mookgophong verskyn. Die een beskuldigde (42) is op borgtog van R1 500 vrygelaat. Die ander beskuldigde het nie borgtog gekry nie omdat daar glo nog ’n ander saak hangend teen hom is. Die aard van die saak is nie bekend nie.
Daar is ook beslag gelê op ’n Nissan-bakkie wat aan die munisipaliteit behoort waarmee die kabels glo vervoer is.
Burgemeester Marlene Van Staden het haar sterk in ’n mediaverklaring uitgespreek teen die beweerde misdryf en gesê die saak word in ’n baie ernstige lig beskou. Sy het gesê die munisipaliteit sal sy eie interne ondersoek oor die aangeleentheid met erns en dringendheid afhandel. Sy het ook verskoning aangebied vir enige ongerief wat uit die voorval gespruit het.
Die mans moet weer op Donderdag 22 Augustus in die hof in Mookgophong verskyn.
- Nie die polisie of die burgemeenster wou die mans se name aan Die Pos verskaf nie.



