Groot verskeidenheid produkte by Kersmark
Die uitsoek van besondere Kersgeskenke is vir die meeste mense ’n groot lekkerte en voorreg en vanjaar hoef hulle nie noodwendig stad toe te ry om ’n handgemaakte of unieke geskenk vir hul geliefdes aan te skaf nie.
Die Paljas Kersmark wat op Saterdag 2 November by Hoërskool Warmbad in Bela-Bela aangebied word, sal aan mense die geleentheid bied om die pragtige produkte van ’n groot verskeidenheid entrepreneurs en kunstenaars te kan besigtig. Die mark word deur Hoërskool Warmbad in samewerking met Die Pos-kinderfonds aangebied.
Die Ietsie Mois Mark wat die afgelope paar jaar in dié dorp aangebied is, sal nie meer plaasvind nie en die meeste uitstallers van dié mark het reeds hul stalletjies by Paljas bespreek.
Die organiseerders van Paljas sal poog om die lekker atmosfeer wat altyd by Ietsie Mois geheers het, te behou.
Hoërskool Warmbad beskik oor lieflike geriewe met groot koeltebome waar besoekers nie net kan rondsnuffel tussen die pragtige stalletjies nie, maar ook heerlik kan kuier rondom die groot verskeidenheid kosstalletjies. Daar is ook baie parkeerplek naby die ingang van die mark beskikbaar.
Die mark wil ook entrepreneurskap en kreatiwiteit onder die jeug bevorder en skoolleerders (onder 16 jaar) wat ’n unieke produk maak of reeds bobaaskokke is en tuisgemaakte lekkergoed en gebak maak, kan teen ’n spesiale prys van R50 ’n stalletjie bespreek.
Daar is nog plek vir uitstallers, maar produkte word vooraf gekeur. Om aansoek te doen of vir meer inligting oor Paljas kontak Bea Emslie by tel. 083 654 5819 of stuur ’n e-pos na dieposbea@icon.co.za (.)
Toegang na die mark is gratis, maar by die ingang sal daar vir donasies gevra word ten bate van Die Pos-kinderfonds, Stadspoort en Hoërskool Warmbad se voedselprojek.



