
Karel Niewenhuis, adjunk- provinsiale leier: Vryheidsfront Plus, skryf:
’n Langverwagte forensiese ondersoek het ’n miernes van korrupsie in die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit blootgelê.
Die munisipaliteit is tans onder administrasie en die nasionale tesourie is versoek om ’n ondersoek uit te voer oor talle bewerings van onreëlmatighede. Ondoeltreffende administrasie het tot groot vertragings met die verkryging van belangrike dokumentasie gelei wat vir die ondersoek benodig is.
Miljoene rande is aan maatskappye betaal met wie geen ooreenkomste aangegaan is nie en waarvoor daar ook nie fakture vir transaksies bestaan nie. Elektroniese oorbetalings is in 539 verdagte transaksies gemaak. In sommige gevalle weet die munisipaliteit nie wie die begunstigdes is nie.
Een voorbeeld is die meer as R9,3 miljoen wat vir sogenaamde regsake betaal is. Die ANC het onderneem om te reageer sodra die verslag onder hulle aandag kom.
Volgens mediaberigte het die DA die inisiatief vir hierdie ondersoek geneem nadat dié party in 2016 beheer oor die munisipaliteit van die ANC oorgeneem het. Hierdie stelling verdien ’n regstelling. Die DA het in koalisie met die VF-Plus en EFF beheer oor die munisipaliteit geneem. Hierdie feit word telkens geïgnoreer.
Sonder al die partye se samewerking is dit onmoontlik om die ANC-beheer oor die munisipaliteit te ontsê. In die verwysing na die forensiese ondersoek gee die DA weer eens geen erkenning aan die koalise nie sodat die kollig volledig op die DA as politieke party val.
Bostaande verslag weerspieël nie slegs wat die DA se mening oor die stand van sake onder ANC-beheer was nie, maar ook dié van die VF-Plus.
Ek vertrou dat die ondersteuners van alle partye hierdie belangrike kwessie in die regte lig sal beskou.



