CrimeNews

Tronk is dié liegbekke se voorland

Mense wat op ’n bedrieglike wyse kwalifikasies bekom of valse inligting oor hul kwalifikasies weergee, kan nou tronk toe gaan.

Pres. Cyril Ramaphosa het op Maandag 19 Augustus die nasionale raamwerkwet (NKR) vir kwalifikasies onderteken en dit is sedertdien van krag.

Die Pos het die wet onder oë gehad en vrae aan die Suid-Afrikaanse kwalifikasie-owerheid (SAQA) gerig.

Die wet maak voorsiening vir SAQA om enige kwalifikasie en gedeeltelike kwalifikasie te verifieer.

Dit erken ook wettige geregistreerde instansies vir hoër- en tersiêre onderrig.

Indien ’n regeringsafdeling, werkgewer, onderriginstansie of instansies wat vaardigheidskursusse aanbied ’n aansoeker se kwalifikasies wil nagaan, kan hulle dit deur SAQA verifieer, lui die verklaring.

Kwalifikasies wat in die buiteland bekom is, kan deur SAQA met die nasionale kwalifikasie-raamwerk (NKR/NQF) vergelyk word.

Indien ’n kwalifikasie wederregtelik bekom is, sal SAQA by navraag nie huiwer om dit aan voornemende werkgewers of opvoedingsinstansies te openbaar nie, het SAQA aan Die Pos gesê.

SAQA bevestig dat die nuwe inligting oor valse kwalifikasies op hul stelsels aangeteken en verwys word na ’n ondersoekeenheid. ’n Persoon wat skuldig bevind word, kan vyf jaar tronkstraf of ’n boete opgelê word. Die proses om ’n kwalifikasie te verifieer is vir die publiek beskikbaar. ’n Vrywaringsvorm en ’n gesertifiseerde afskrif van die persoon wat navraag doen se identiteitsdokument word verlang.

Mense wat ’n wettige kwalifikasie bekom het en hul inligting verskyn nie op SAQA se databasis nie, kan SAQA kontak om die kwalifikasie te registreer, het ’n woordvoerder van SAQA gesê.

Werkgewers kan SAQA se Verifications Project-afdeling kontak waar derde party-navrae deur SAQA se VeriSearch-funksie op hul webtuiste besoek kan word, het SAQA gesê.

  • ’n Wettige kwalifikasie word slegs erken as dit by die NKR geregistreer is deur ’n geregistreerde, gevestigde, verklaarde of saamgesmelte en geakkrediteerde onderriginstansie of diensverskaffer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button