NewsSchools

Groen en goud vir dié knap Hansie-onnie

Een van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong se onderwysers het Springbokkleure in Landsdiens verwerf.

Riana Potgieter is self ’n oud-Hansie en Landsdiensbloed vloei al jare lank deur haar are.

“Ek poog om elke dag die liefde vir my Skepper, my naaste, die natuur en vir arbeid of werk in my eie lewe te beoefen,” het sy aan Die Pos gesê.

Dit is ook die vier bene waarop die Landsdiens-beweging staan.

Potgieter is sedert 1995 by die Landsdiens-beweging betrokke en het al verskeie provinsiale, nasionale en interprovinsiale kampe bygewoon. Sy het ook al vier haar kinders aangemoedig om by die Landsdiens betrokke te raak. Hulle het self verskeie toekennings vir Landsdiens ontvang.

Potgieter se oudste dogter, Wilmari, was sedert gr. 1 by Landsdiens betrokke en het twee jaar gelede, toe sy in matriek was, ’n senior Springbok-toekenning in Landsdiens verwerf.

Potgieter was vanjaar verantwoordelik vir die reël en aanbied van die jaarlikse Landsdienskamp wat in die Julie-vakansie by Badseloop buite Mookgophong aangebied is.

Sy is ook ’n kranige fotograaf en behartig die Facebook-blad van die beweging se Limpopo-takke, asook die bemarkingsvideo’s.

Potgieter is baie trots om die groen en goud te kan dra en gaan in Desember die nasionale kamp in Brits bywoon, wat vanjaar deur Limpopo aangebied word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button