Karel Niewenhuis, adjunk- provinsiale leier, Vryheidsfront Plus, skryf:
Daar is dikwels besware dat politieke partye se voortbestaan gegrond word op kritiek teen ander partye, asook dat probleme gestel word sonder om oplossings aan die hand te doen.
Die VF Plus trap nie in hierdie slaggat nie. Probleemoplossing is ’n kernaangeleentheid; daarom is dit moontlik om terugvoer aan lesers te gee oor probleme wat reeds onder die loep geneem is.
Klagtes wat deur die VF Plus by die Openbare Beskermer in Polokwane aangemeld is, word tans ondersoek. Voorbeelde hiervan is die verlof-uitkoopgeld wat aan senior beamptes toegestaan word. ’n Verdere aangeleentheid is die wederregtiglike verhuring van munisipale eiendom.
In Die Pos van 26 Oktober 2018 is hierdie toedrag van sake volledig uiteengesit (“Munisipale grond glo vir ’n appel en ei verhuur”). Die huurkontrakte van grond wat van die munisipaliteit gehuur word, het verval. Die huurgeld word nie ingevorder nie en tans word van hierdie eiendom beset deur raadslede en oudraadslede wat selfs van die eiendom onderverhuur.
Die VF Plus het versoek dat huurkontrakte herevalueer word, asook die waardering van die betrokke eiendom. Dit het tot op hede nie gebeur nie. Die VF Plus sal nou die Openbare Beskermer dringend versoek om die betrokke amptenare wat met die verhuring gemoeid is, tot verantwoording te roep.



