Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter: Suider-Afrika Agri-inisiatief (Saai), skryf:
Die Suider-Afrika Agri-inisiatief (Saai) verwelkom die nasionale tesourie se besprekingsdokument oor ekonomiese beleid wat op Dinsdag 27 Augustus uitgereik is.
Dié dokument van 62 bladsye fokus op vyf temas wat swak ekonomiese groei en toenemende werkloosheid oor die langtermyn sal hokslaan. ’n Groot deel van die dokument fokus op die landbou- en dienstebedrywe aangesien hierdie sektore in die beste posisie is om arbeidsintensiewe groei te bewerkstellig. Verbeterde toegang tot finansiering, bekostigbare landbouversekering, landboutegniese adviesdienste vir ontwikkelende boere en toegang tot markte is sommige van die prioriteite wat genoem is om ’n vriendeliker omgewing, waarin landbou kan gedy, te skep.
Die besprekingsdokument verteenwoordig ’n vars bries uit owerheidsgeledere, en Saai hoop dat dit wyer as net by die tesourie byval sal vind. Die olifant in die kamer, wat nie deur die dokument in ag geneem word nie, is die demper wat SEB-vereistes en grootskeepse bedrog op beleggers se aptyt plaas. In dié verband staan die besprekingsdokument in skrille kontras met die dreigemente van Thulas Nxesi, minister van arbeid, om meer drakoniese rassekwotas aan maatskappye op te dwing.
Saai is veral opgewonde oor Tito Mboweni, minister van finansies, se voorstelle oor ’n moontlike gesubsidieerde versekeringskema vir landbou omdat dit toegang tot finansiering sal bevorder, risikobestuur sal verbreed en ’n unieke geleentheid sal skep om produksiedata in te win.
“Dit is ook treffend dat die verslag die belangrike rol van eiendomsreg en die besit van bates onderskryf. Ná die onlangse Graham-uitspraak oor die uitbreiding van die wet op die opgradering van grondbesitregte sal ons graag wil sien dat begunstigdes van grondhervorming en die Land Redistribution for Agricultural Development-plan titelaktes ontvang vir hul grond.
Saai glo as die voorstelle in die besprekingsdokument realiseer, dit die mededingendheid van Suid-Afrikaanse landbou met rasse skrede sal laat styg.
Saai het op uitnodiging van Mboweni onderneem om voor Sondag 15 September kommentaar te lewer op die voorgestelde landboustrategie wat in die dokument vervat is.



