Oumagrootjie gaan matriekdans toe!
“Toe hy op sy knieë gaan en my vra, was my reaksie: hoe sê jy nou? Ek het gedink dit is malligheid, maar ek het toe ja gesê.”
Emil du Plessis (91), beter bekend as ouma Doep of ouma Mielie, was op Dinsdag 27 Augustus effe uit die veld geslaan toe haar kleinseun, Dylan (18), haar gevra het om sy metgesel na Hoërskool Warmbad se komende matriekafskeid te wees.
Dit sal haar eerste matriekafskeid wees wat sy as eregas bywoon. Sy is ’n inwoner van die Warmbad Rusoord, ’n tehuis vir bejaardes.
“Ek het niks vooraf van sy planne geweet nie. Ons was nog besig met ete toe Dylan ingestap het, netjies aangetrek en met ’n bos bont blomme in die hand,” het Du Plessis aan Die Pos vertel.
“Toe hy op sy knieë gaan en my vra, was my reaksie: hoe sê jy nou? Ek het gedink dit is malligheid, maar ek het toe ja gesê.”

Dylan het gesê hy het ’n baie hegte verhouding met sy oumagrootjie tydens sy laerskooldae ontwikkel. Hy het gereeld by haar oorgebly en sy het feitlik nooit nee gesê vir ’n speletjie nie.
“Ek was vir lank die enigste agterkleinkind. Sy het destyds saam met my krieket gespeel (sy doen dit steeds soms!) en is altyd ’n bok vir sports by familiesaamtrekke,” het Dylan gesê.
Du Plessis het vertel dat sy destyds slegs gr. 10 (destyds st. 8) aan Hoërskool Nylstroom behaal het.
Sy het ná skool verpleegkunde as beroep beoefen en haar opleiding in onder meer kraam en teater by verskeie hospitale ondergaan. Sy was vir baie jare aan die Warmbad-hospitaal verbonde.
“Baie van die dokters was effe bang vir my en die verpleegpersoneel het behoorlik in hul spoor getrap, want ek was streng. By my familie was ek ’n heeltemal ander mens.”
Dylan en sy ma, Elda, stem saam dat ouma Doep die vredemaker in die familie is en dat sy altyd gekant is teen enige vorm van onenigheid.
“Ek is baie lief vir my familie en doen moeite vir my kleinkinders. Ek en Dylan behoort eintlik in ’n donkiekar by die matriekafskeid op te daag, want dit is hoe ek skool toe gegaan het.” Sy het voorts gesê dat sy nog ’n rok moet gaan uitsoek, maar dat dit iets moet wees wat by haar postuur sal pas.
“Ek is nie bang vir my eerste matriekafskeid nie, want ek kom goed klaar met die jongmense. Dit gaan baie lekker wees, want ek het baie stories om te vertel en ons gaan pret hê,” het sy gesê.
Dylan beoog om ’n donkerblou aandpak en sy velskoene (vellies) na die matriekafskeid te dra. Die voertuig waarmee hul na hierdie spoggeleentheid gaan, bly egter nog ’n verrassing.
“Ons sal Ouma nog in iets elegants moet kry vir die groot dag. Sy is game vir enigiets,” het hy gesê.



