CrimeNews

Hoe op aarde kry hierdie inwoner dít reg?

“Dit is onmoontlik tensy daar êrens gekonkel is en sekere persone met die regte kontakte daarin kon slaag om vir minder as ’n vyfde van die werklike bedrag die eenhede te bekom.”

Bela-Bela-inwoners se kragheffings het in Julie vanjaar met 6,84% gestyg.

Dit lyk egter asof sekere inwoners se heffings wederregtelik aangepas is om nie die voorgeskrewe R1,68 per eenheid te betaal nie.

Tinus Ras, DA-raadslid, is onlangs deur ’n inwoner genader nadat daar glo ongerymdhede met dié se voorafbetaalde kragaankope bemerk is.

Die man, wie se identiteit nie bekend is nie, het glo die munisipaliteit besoek en ’n versoek gerig dat hulle hom tegemoet kom met die aankoop van krag vir sy huis, het Ras gesê.

Volgens die koopbewys, waarvan Die Pos ’n afskrif het, is die man met 110 krageenhede en 50 gratis eenhede gekrediteer waarvoor hy slegs R20 betaal het.

Die transaksie is by ’n plaaslike vulstasie gedoen, maar die toegewing op die rekening kon net deur die munisipaliteit hanteer word, het Ras gesê.

“Ek kan jou verseker hierdie is nie die enigste geval nie,” het Ras gesê. “Dit kon net gedoen word indien daar met die stelsel gepeuter is of iemand in ’n hoër posisie het goedkeuring gegee om die transaksie te doen.”

Hy het gesê dat die munisipaliteit R130 se inkomste uit hierdie enkele geval verloor het en die kommer bestaan dat daar ook ander onwettige toegewings gemaak word.

“Dit maak nie saak hoe ’n mens daarna kyk nie: Ons het inkomste verloor. In hierdie geval moes die man R150 betaal het om daardie hoeveelheid eenhede te verkry. En dan praat ons nie eens van die afslag wat hulpbehoewendes (indigents) kry nie.”

Hulpbehoewendes ontvang 50 krageenhede en 6 kl water gratis per maand, soos uiteengesit in die nuwe munisipale begroting wat in Julie ingetree het.

Indien hierdie inwoners egter die hoeveelheid krag- en watergebruik oorskry, moet hulle, nes elke ander inwoner, die gewone tarief betaal.

Ras sê hy is gefrustreerd aangesien daar die afgelope drie maande geen amptelike finansiële komiteevergadering by die munisipaliteit gehou is om die dorp se finansiële posisie te bespreek nie.

“In terme van ons beleid is bedrog tydens hierdie voorval gepleeg. Ons moet ’n dringende finansiële vergadering reël en kyk of ons die saak met die munisipale raad kan bespreek.”

Johan Mills, voorsitter van die Bela-Bela-belastingbetalersforum (BBTF), het in reaksie gesê dié kragaankoop is “werklik ’n winskoop”.

“Dit is onmoontlik tensy daar êrens gekonkel is en sekere persone met die regte kontakte daarin kon slaag om vir minder as ’n vyfde van die werklike bedrag die eenhede te bekom.”

Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, is vir kommentaar genader, maar het teen druktyd geen terugvoer gegee nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button