Die forensiese verslag na die stand van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit se geldsake is nie op Maandag 2 September bekend gemaak soos wat verwag is nie.
Basikopo Makamu, LUR van die departement van samewerkende regering, tradisionele sake en menslike nedersettings (CoGHSTA), het nie die verslag aan die raad voorgelê nie, maar slegs ’n kort oorsig daarvan aan die uitvoerende komitee gegee, het Marlene van Staden, burgemeester, bevestig.
Die DA, wat saam met die VF Plus en die EFF die munisipale raad beheer, het Dinsdagoggend 3 September ’n mediakonferensie hieroor in Polokwane gehou.
Die verslag sal glo op Vrydag 6 September aan die raad voorgelê word waar hulle dan moet besluit of hulle die voorstelle wat daarin gemaak word, gaan aanvaar of nie. Die vergadering sal moontlik agter geslote deure gehou word.
Daar word verwag dat die verslag ’n rits korrupte aktiwiteite, sowel as diegene wat vermoedelik daarby betrokke was of is, sal blootlê. ’n Dagblad wat reeds die verslag onder oë gehad het, het verlede week berig dat die verslag bevind het dat miljoene rand uitbetaal is aan maatskappye wat geen diensleweringskontrakte met die munisipaliteit gehad het nie. Daar was ook nie enige fakture vir die transaksies beskikbaar nie.
Die munisipaliteit is in ’n groot geldelike verknorsing en skuld Eskom reeds meer as R400 miljoen. Swak bestuur en beweerde korrupsie het glo bygedra tot dié probleme.
“Dit is nou al drie jaar dat ons op hierdie verslag wag,” het Van Staden gesê. “Ons het 18 maande lank gevra dat daar ’n ondersoek na die munisipaliteit se geldsake geloods moet word. Daarna het dit nog ’n jaar en ’n half geneem voordat ons die verslag oor die ondersoek kon kry. Dit lyk verdag,” het sy gesê.
Die munisipaliteit het in Junie ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) ingedien.
“Toe hoor ons ewe skielik dat die verslag al reeds in Februarie vanjaar aan CoGHSTA gegee is. Ons is versoek om ons aansoek terug te trek,” het sy gesê. “Ons kon al ses maande gelede met vervolging begin het.”
“Dit sal ’n stap in die regte rigting wees as die raad die verslag se voorstelle aanvaar en mense verantwoordelik gehou word,” het sy gesê.



