CrimeNews

Man in hof ná moord op bejaarde

Maripa het glo in sy suster se huis geskuil in Witpoort buite Lephalale voordat hy vasgetrek is.

Die Modimolle-polisie het ’n groot deurbraak gemaak nadat die moordverdagte van Trudie Grebe (73) ná ’n week lange soektog vasgetrek is.

Die polisie was die afgelope week op soek na Mmakwena Morris Maripa wat glo vroeër tuinwerk vir die Grebe-egpaar gedoen het. Veiligheidsgroepe het groot belonings uitgereik vir inligting wat tot sy in hegtenisname sou lei.

 

Morris Maripa (51), wat glo voorheen tuinwerk vir Dolf en Trudie Grebe van Modimolle gedoen het, is ná ’n week lange soektog aangekeer in verband met die wrede moord op Trudie. Foto: Heritage Protection Group

 

Volgens kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, het die polisie op Maandagoggend 2 September ’n 51-jarige man ná ’n groot polisie-operasie in die Reabetswe-dorpie in Witpoort buite Lephalale vasgetrek. Hy het glo in sy suster se huis geskuil. Die man se identieit is nie bekend gemaak nie omdat hy op daardie stadium nog nie in die hof verskyn het nie. Die polisie het intussen bevestig dat dit Maripa is wat aangekeer is.

Volgens AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, het lede van die polisie, saam met die Heritage Protection Group (HPG), gereageer nadat hulle inligting ontvang het oor waar die verdagte skuil. Van die betrokkenes het gesê sedert ’n foto van die verdagte uitgereik is, het hulle talle oproepe van mense ontvang oor waar die man homself bevind. Al die leidrade is opgevolg, hoewel nie almal akkuraat was nie. Selfs polisielede wat op verlof was, het ingespring om die verdagte te help vastrek, het Findlay gesê.

Die Pos het verlede week berig Grebe se liggaam is deur ’n kliënt agter in haar tuin in Emmastraat ontdek. Die vrou het haar hond vir Grebe, wat’n hondesalon van haar huis af bedryf het, gebring, maar onraad vermoed toe ’n vreemde man by die huis uitgestap en gesê het niemand was tuis nie. Trudie se verswakte en hardhorende man, Dolf (75), het eers besef dat sy vrou aangeval is toe die polisie opdaag. Die dierebeskermingsvereniging het altesame 14 weggooihonde, waarna Grebe omgesien het, uit haar erf verwyder.

Dolf is uiters geskok ná die voorval en word intussen deur bure versorg totdat hy in ’n tehuis vir bejaardes opgeneem word.  Findlay het aan Die Pos gesê Grebe het wonde aan haar hande en lyf gehad en haar gesig is erg geskend. ’n Mes is op die toneel gevind. Haar troosdiens is op Woensdag 4 September in die NG-gemeente Waterberg gehou.

  • Maripa het op Dinsdag 3 September bykans sonder enige belangstelling van die publiek in die Modimolle-hof verskyn op aanklag van moord. Die saak teen Maripa is uitgestel tot Donderdag 3 Oktober. Hy het nie aansoek om borg gedoen nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button