
Trevor Fenn, Modimolle, skryf:
Ek is ’n tyd gelede met Charcot-voet gediagnoseer.
Dit is ’n vernietigende siekte waar die beentjies van die voet só verbrokkel en verkrummel dat die voet heeltemal vervorm word. Die toestand gaan gepaard met baie pyn. In die meeste gevalle word so ’n ledemaat geamputeer.
In ’n dwaal en verdwaas het ek uit die spreekkamer in Johannesburg gehobbel nadat ek die tyding gekry het. Wat nou? My eerste wens was om so gou as moontlik by my huis in Modimolle te kom.
Daardie selfde nag het my toestand baie versleg en is ek per ambulans na die FH Odendaal- hospitaal in Modimolle geneem.
Dié hospitaal loop onder baie kritiek deur en hoewel kritiek in sekere gevalle geregverdig is, het ek die teendeel ervaar.
Ja, die hospitaal is nie modern nie en ja, van die toerusting word soms nie herstel as dit gebreek is nie, maar my bedlinne is nogtans elke dag geruil, die sale se vloere is daagliks gevee en gewas, pasiënte ontvang drie voedsame maaltye per dag (ek gee toe: die spyskaart is nie uitgebrei nie) en die personeel sien toe dat die pasiënte versorg word.
Enige hospitaal plaas ’n beperking op ’n mens se privaatheid en die kwessie van gedeelde badkamergeriewe is ’n gegewe. Die badkamers was egter skoon en netjies.
Ek het daagliks binneaarse aanvullings en antibiotika ontvang. In die tydperk het ek vyf eenhede bloed ontvang. My verbande is daagliks geruil en al hierdie mediese prosedure is in steriele omstandighede gedoen.
Dankie vir puik diens wat ek nie net van die bekwame dokters en die omgee-verpleegpersoneel ontvang het nie, maar selfs van die skoonmakers en opnameklerke. Ek skryf my herstel toe aan hulle toegewydheid.
Dit is nou drie jaar sedert my been geamputeer is en hoewel ek elke dag bewus is van my verlies, het ek kosbare lewenslesse geleer. Gesondheid, ware vriendskap en liefdevolle families is meer as goud werd. Waardeer dit. (Brief verkort. — Red.)



