Waarnemer, Waterberg, skryf:
Ek kan net my kop skud oor die beweerde ongerymdhede wat blyk uit die forensiese verslag van die Modimolle-Mookgopong-munisipaliteit, oftewel die dele uit die verslag waaroor in Die Pos van Vrydag 13 September berig is.
’n Mens wonder oor ander aangeleenthede wat ook in die verslag gemeld word en waaroor nie berig is nie. Is dit net so aaklig?
Die DA is veronderstel om in politieke beheer van die munisipaliteit te wees. Het die DA nie kort ná sy bewindsoorname beloof dat sake reggeruk sou word nie?
Uit die berig word die afleiding gemaak dat die ongerymdhede gepleeg is sedert die tydperk toe die DA grootliks in beheer van die munisipaliteit was.
Word daar in die verslag ook gehandel oor die era voordat die DA tot die meerderheid verkies is en, indien wel, wat is daaroor in die verslag genoem?
’n Vraag wat ook opduik is of die amptenare wat die beweerde onregmatighede gepleeg het met hul aanstellings behoorlik geëvalueer is om te bepaal of hulle bevoeg is om hul onderskeie posisies te beklee.
En dan nog ’n vraag: Is die aanstellings gedurende die termyn van die DA gemaak?
Is die DA nog nie spyt dat Dewald Eksteen onder die druk van die EFF sy pos kwyt is nie?
Die verslag kan dalk meer vrae ontketen as wat tans na die oppervlak gebring word. Amptenare kan nie vir alles die skuld kry nie. Raadslede moet ook verduidelik.



