Dr. Meyer de Jonge, beheerliggaamsvoorsitter: Hoërskool Warmbad, skryf:
Ek het nog nooit myself in ’n openbare briewekolom begewe nie, maar ná talle slapelose nagte oor die huidige finansiële situasie van ons skool, voel ek verplig om op hierdie manier direk met die ouers van die skool te praat.
Hierdie skool het ’n ryke tradisie van meer as 70 jaar waarvan menige van Die Pos se lesers deel was. Ná 1994 het die skool voorsiening vir alle hoërskoolleerders gemaak deur uitnemende opvoedkundige geleenthede te bied. Nieteenstaande die feit dat ek self nie ’n oud-Warrie is nie, maak ek my bestaan uit die gemeenskap wat ek dien en voel baie sterk oor die beginsel dat my kinders uit my huis moet skoolgaan.
Ongelukkig was dit vrugteloos om ouervergaderings te probeer reël aangesien slegs enkele ouers die vergaderings bywoon.
Dit is tans my tweede termyn op die beheerliggaam.
Etlike jare gelede het ons interne probleme ondervind wat spanning binne die personeelkorps veroorsaak het. Onder die bekwame leiding van Paul Liddle, skoolhoof, kan ek met vrymoedigheid sê dat daar tans ’n wonderlike gees onder ons personeel heers en dat daar talle positiewe dinge by die skool gebeur.
Ongelukkig, as verteenwoordiger van die ouers, moet ek my kop in skaamte laat sak, want die aanklag is vandag teen die ouers van die skool.
Die beheerliggaam is nie onsensitief teenoor ouers wat swaarkry nie, maar die werklikheid is dat sommige ouers dit nie meer as ’n prioriteit beskou om hul skoolgeld te betaal nie. Ouers bestee eers hul geld op luukshede voordat hulle dié ouerlike plig nakom. Hierdie optrede raak almal wat tans by Hoërskool Warmbad betrokke is en in die toekoms sal wees.
Wat ouers hulself moet afvra, is waarheen gaan hul kinders as die skool nie meer sy finansiële verpligtinge kan nakom nie? Enige skuif sal die ouers meer as dubbeld per jaar kos as hul huidige skooluitgawes.
Die beheerliggaam het reeds op alle terreine besnoei.
Al wat oorbly, is groter klasse, minder plaaslike sportgeleenthede en geen kulturele of sportgeleenthede waarheen gereis moet word nie.
Die sakegemeenskap van die dorp het die skool ontsettend baie ondersteun, maar dit kan nie die enigste oplossing wees nie. Ons is diep dankbaar vir hul bydrae tydens moeilike ekonomiese tye.
Daar word jaarliks baie ure ingesit om ’n begroting vir die volgende jaar se uitgawes op te stel.
Met meer as 60% van die ouers se skoolgeld wat uitstaande is, weet ek nie of dit ’n vrugtelose oefening is nie.
Ek sal dit waardeer as van die ouers vir ons ’n plan kan kom voorlê oor hoe om ’n skool doeltreffend te bestuur sonder die geld wat hulle aan die skool verskuldig is om hul kinders op te voed.
Ek wil al die ouers bedank wat baie van hul eie tyd, geld en toerusting beskikbaar stel om die skool te verbeter.
Hierdie ouers se skoolfonds is ook op datum. Baie dankie daarvoor.
Indien elke ouer uit die verskillende gemeenskappe nie gaan inspring en ernstig betrokke raak by die skool nie, sal ons nie die droom van uitnemendheid kan laat realiseer nie. Hierdie kultuur van onverantwoordelikheid teenoor skoolfonds is ’n probleem waarmee selfs die laerskool op die dorp sukkel.
Ons pleit by ouers om hul gesindheid ten opsigte van skoolfooie drasties te verander sodat daar oor ’n paar jaar steeds die voordeel van ’n puik skool in ons tuisdorp kan wees.



