Die net het op Vrydag 13 September om die verdagtes toegevou toe die polisie en veiligheidsgroepe hul pad na vryheid kortgeknip het.
Volgens AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, het ’n lid van die omgewing se gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) ’n wit Ford Figo gewaar wat vermoedelik die vorige dag by ’n diefstal uit ’n voertuig in Vaalwater betrokke was. GPF-lede het die voertuig, wat op pad was na Vaalwater, agtervolg, maar die insittendes het onraad vermoed en teruggedraai Modimolle toe om hulle te probeer ontduik.”
Speurders van die Modimolle-polisie, die kring se trio-taakspan, die honde-eenheid, die visuele polisiëringseenheid, Vaalwater-polisie en GPF-lede het vinnig gereageer en die pad voor die tronk (die Departement van Korrektiewe Dienste) in Modimolle afgesper. Die voertuig is voorgekeer en vier verdagtes is aangekeer.
“Sers. Amanda Rossouw het die vier in hegtenis geneem vir die besit van toerusting om in voertuie in te breek nadat ’n afstandbeheerder wat seine blokkeer, by hulle gevind is,” het Findlay gesê.
Die verdagtes het vlugtig op Maandag 16 September in die hof op Modimolle verskyn.
Findlay het inwoners gevra om seker te maak hul voertuie se deure is gesluit wanneer hulle dit met ’n afstandbeheertoestel sluit.



