CrimeNews

Egpaar moedeloos ná vyfde inbraak in drie maande

“My goed is altyd so netjies, maar hulle het alles ver­woes en uitge­gooi om te vat wat hulle wou hê.”

’n Bejaarde egpaar van Mook­go­phong, Hennie (89) en Anne (88) Hefer, maak snags nie ’n oog toe nie nadat hulle sedert Julie van­jaar al vyf keer deur boewe geterro­riseer is.

Die eg­paar woon die afge­lope 31 jaar in dieselfde huis in die dorp.

“Daar is al voor­heen by ons inge­breek, maar sedert Julie vanjaar is daar nou al vyf keer weer by ons inge­breek. Die laaste keer was in die vroeë oggend­ure van Vry­dag 6 Septem­ber toe hulle my skoene, sel­fone, tele­visie en DVD-speler gesteel het,” het Hennie aan Die Pos gesê.

Die in­brekers het die agter­deur se hek afge­ruk en toe die deur oop­geskop. Hulle het al die elek­triese toerus­ting en gereed­skap uit die motor­huis gebuit. Gelukkig kon Anne iemand van die plaas­like gemeen­skaps­polisiërings­forum (GPF) in die hande kry. Kobus van Loggeren­berg van die GPF het hulle te hulp gesnel, maar die drie boewe het op die vlug geslaan en kon nie aange­keer word nie.

“My goed is altyd so netjies, maar hulle het alles ver­woes en uitge­gooi om te vat wat hulle wou hê,” het ’n hart­seer Hennie vertel. Volgens hom het hulle van­jaar op 13 Julie, 19 Julie, 23 Julie, 26 Julie en 6 Septem­ber onder inbre­kers deurge­loop.

“Ons is baie bang. Ons gaan deur ’n moei­like tyd. Ons wil na ons kin­ders in Vander­bijl­park toe gaan,” het Anne gesê.

Past. Johan Gertzen van die AGS-kerk in Mook­go­phong het in­tussen gereël dat die getrau­mati­seerde Hefers vir twee aande in die Naboom Tuiste vir Bejaardes kan oornag.

Die kerk het ook ’n veilig­heids­wag gehuur om vir ’n tydperk na die egpaar se huis om te sien. Van Loggere­nberg het gereël dat daar saans patrollies voor die egpaar se huis gery word.

Philip van Staden van AfriForum het ook bystand aan die egpaar gebied en die gemeen­skap se hulp gevra om die be­jaardes in die dorp te help beskerm teen laf­hartige boewe.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button