Dié onthulling is gemaak nadat ’n inwoner van die Bela-Bela-township vir Tinus Ras, DA-raadslid, genader het met ’n betaalbewys wat daarop dui dat hy 110 krageenhede teen slegs R20 gekry het.
Daar is ook 50 gratis krageenhede aan hom toegestaan, dui die bewysstrokie.
Volgens Ras het dié persoon aanvanklik ’n amptenaar van die munisipaliteit genader om hom te help met die aankoop van krageenhede en is die strokie daarna onder sy aandag gebring.
Ingevolge die nuwe munisipale begroting behoort elke inwoner R1,68 per krageenheid te betaal. Daar is voorsiening gemaak vir hulpbehoewendes, wat 50 gratis krageenhede en 10 kl water per maand ontvang. Enige verbruik daarna word teen die gewone tarief gehef.
Johan Mills, voorsitter van die Bela-Bela-belastingbetalersforum (BBTF), en Ras meen dat daar beslis iewers ’n gekonkel met die munisipale stelsel is.
Daar bestaan ook die moontlikheid dat daar meer soortgelyke gevalle is. Dit is sorgwekkend, want dit beteken dat die munisipaliteit regmatige inkomste verloor, het hulle gesê.
Die publiek het heftig op sosiale media gereageer en vingers na die regerende ANC-party op die dorp gewys.
Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, het in reaksie gesê die voorval word in ’n baie ernstige lig beskou. Hy het gesê die munisipaliteit is baie dankbaar dat dit onder hul aandag gebring is.
“Ons beskou dit as ’n ernstige oortreding en is besig met ’n forensiese ondersoek. Ons kan nie tans kommentaar lewer op die ondersoek nie, behalwe deur te sê dat ons so gou as moontlik daarop sal reageer.”



